As jy jou pa in sy opvoeding gefaal het.

Ek het die volgende 500m teen ‘n spoed afgelê wat enige driekampatleet rooi in die gesig sou laat. My honde het met tongetjies wat skuins uit hul bekkies waai en wippende oortjies agter my aangehardloop.

Ek kon eers stop toe ek my man tussen die bome om die draai sien. My bors het gebrand en my hartklop was onnatuurlik hoog. Dit was vlug of veg en vlug het die oorhand gewen.

My man het my verwonderd aangekyk, want ek kon nie hierdie afstand in sulke tyd aflê, teen loopspoed nie. Die honde het net so verbaas tot stilstand gekom. Sekerlik gewonder waarheen het hul dan nou so moes hol?  Vol afwagting het die twee paar bruin ogies opgekyk na ons.

“S-slang! Pofadder!” is al wat ek uitasem uit my droë keel kon rasper.

Ek het as’t ware in slangwêreld groot geword. Ons het gewoonlik of langs veld gebly, of my pa het ons op staptogte deur veld en berg geneem. Ons het baie vakansies op ons oupas en ooms op hul plase gaan kuier in die warm Noord Transvaal. Daar waar die slange graag na die koeligheid van huise gevlug het. Ek moet dus die seilende oudjies heel gewoond wees, nie waar nie?

As dit by slange kom het my pa het net een reël gehad. Wanneer jy ‘n slang teëkom, STAAN JY STIL. Net dit. Niks van ‘n gegillery of hollery of springery nie. Net staan! Bewegingloos botstil tot die gediertetjie  (hopelik) weggeseil het.

Wel, ek sou my pa teleurgestel het! Ek het gegil en toe gespring, skuins verby die pofadder wat blykbaar net so verbaas soos ek was oor ons ontmoeting. My honde wat agter my aangedraf het, was egter ‘n probleem. Adam het niksvermoedend verby die verbaasde slang gedraf, maar Bella het die beweging gesien en besluit om ondersoek te gaan instel. Sy het die dik pofadder beruik en dié het haar ook bekyk met split tongetjie al flitsend, koppie reeds opgetrek.

My skietgebedjie was beslis verhoor, want toe ek Bella skrillend roep, toe kom sy. Daar was nie ‘n gedagte by my om te kyk wat wat die pofadder van die petalje dink nie. Ek het net weggetrek en my rekort spoed gehol met die honde opgewonde agter my aan.

Langs die pad het ek darem gewonder waarom ek nou eintlik hardloop? Ek is reeds verby die gevaar, maar die adrenalien het ‘n saak met my gedagtes gehad. Dit was vlug tyd, weg van die gevaar af!

My een oom het slange altyd met groot kalmte benader. Steve Irwin sou ‘n paar lesse by my oom kon leer. Hy het my tannie altyd tot gillende raserny gedryf as hy haar vertel het die huis is net in die slang se pad.  So het hy dan vele slange koeltjies gaan optel en aan die anderkant van die huis gaan neersit, sodat hul ongesteurd kon voortgaan op hul tog na waar ookal.

Jare later was my verbasing groot toe ons ‘n baba slangetjie (ek dink dit was ‘n baba) in ons swembad aan’t swem gekry het. My eerste gedagte was dat babaslangetjies boeties en sussies het, want slange lê mos nie net een eier nie en as ek die oudjie so kyk, lyk hy nog maar pasgebore. My volgende vraag was hoe op aarde kom ‘n slang in DIEP dorpsgebied? Waar is die mamma slang dan?

Ongelukkig het my vrae onbeantwoord gebly. Ons het nooit enige boeties of sussies of oorbeskermende mamma slange gekry nie. My oom sou egter baie trots gewees het, want ons het die oudjie gevang en in die naaste veld gaan aflaai….ek hoop net nie dit was ‘n water slang nie!?

Slange gee my trillende rillings. Selfs in reptielparke waar die oudjies agter glaskaste hul vervelige lui tyd verwyl, gee hulle my rillings. Ek erken hul is seker mooi as jy tyd kry om hul vele kleure en patrone te bewonder, maar ek staan nooit lank genoeg stil om dit te waardeer nie.

Hul oë laat my ys. Dis so skerp, hipnotiserend en beweginloos. Ysig, onpersoonlik en gefokus soos een wat reg is vir aanval. Brrrr!

In alles wat my pa reg gedoen het, kon hy my nie geleer kry om stil te staan nie. Ek het hom beslis wat hierdie ding aanbetref, gefaal. Mens kan maar net hoop ek sal my stiltaan onthou as ek van oog tot oog met die wispelturige mamba te doen kry. Soos ‘n boom staan jy stil, bewende bene en al, Jy wag maar tot die doodskiskop self besluit dis tyd om te gaan, al neem dit heeldag. Dis egter ‘n slangstorie vir anderdag.

Een van die dae begin die son weer laat eers lang skadus trek in die veld waar ek en my man so graag gaan stap. Pofadder habitat! Maar ook ‘n stukkie hemel binne-in die dorp. Klipkoppie, grasvlaktes en baie mooi ou doringbome.

As ek en die slangmaatjies net een of ander ongeskrewe ooreenkoms kon aangaan. Iets soos: Ek respekteer jou omgewing as jy my net sal ignoreer wanneer ek dalk verby jou stap. En  weet net, ek gaan gil en ek gaan waarskynlik hardloop! Lê jy net stil, ek sal gou weg wees.

Jammer Pappa, maar dis’n moeilike reël om na te kom. Wens jy was nog hier!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s