Winter wagter

Dalk moet ek winter herdoop. Iets soos snoesige seisoen of dalk meer gepas snuffel seisoen! My verkniesing aan winter behels altyd iewers een of ander rooi-neus-seer-keel-snotterasie-konsternasie.

Snoesige seisoen haal vir my die ‘wint’ uit winter. Dit beteken om toegevou te wees in ‘n sagte kombers met die gloed van ‘n warm kaggelvuur en ‘n bypassende warm drankie.  Met hierdie prentjie in my kop kan dit maar ysreën en sneeu ook.

As jy soos ek in die somerreënval streek bly (dis nou in my geval Noordwes), is die beste wat jy gewoonlik uit die winter kry – koue.  Partydae is dit heel aangenaam, maar meestal kry mens vrieskoue vroegoggend, somtyds net koue en miskien so een keer in ‘n skrikkeljaar ‘n bietjie kapok en as dit regtig erg raak, ‘n sneeu meevallertjie. Maar dit sneeu gewoonlik op ander plekke. Die nuus sê net dat ons Noordwesters snerpende koue kan verwag, want dit het gesneeu op die Maluti’s.

Gewoonlik sit al wat binnelander is dan af (of is dit op?) berge toe om die rare verskynsel van sneeu te aanskou. Dan speel jy tot jou denimbroek sopnat-koud is en jou vingers rooi gevries. Daarna bibber jy al die pad huis toe en as jy gelukkig is kraak jou kar se voorruit nie, as gevolg van die temeratuur veskil tussen binne en buite die kar.

Of jy die optog aanpak sneeu toe of nie, een ding is seker – die binneland gaan snerpende koue beleef! Ryp ook, sommer swart ryp wat vroegoggend met yskoue staal vingers om jou plante kruip en hul verwurg tot pap hangseltjies.

My suster se kinders is almal gebore en getoë  in die Wes-Kaap en verstaan niks van die Valies se winters nie. Een winter het hul vreeslik opgewonde kom kuier in die binneland – sodat hulle ryp kon sien. Hulle was nie beïndruk nie. Dit was net koud en vaal en vervelig. Hulle het nie gou weer in die winter kom kuier nie. Altans – nooit weer nie.

In elk geval, ons praat nou oor my verwerping van winter. As ek ‘n opregte grizzly beer was, sou ek beslis die hele winter om gehiberneer het. Aangesien ek nie is nie, trek ek agter enige kolletjie son aan en sal die hele winter soos ‘n trekarbeider met my skootrekenaar deur my huis trek. Teen laatmiddag word die kaggel gestook om die donkerte se koue af te weer. Ek het dus nie een skrywershoekie nie, maar vele.

1 Junie kondig ek oorstelp aan dat daar nog net 2 maande winter oor is om te oorleef. Teen einde Julie begin bewyse van langer dae skamerig oor die horison loer en ek toon krampagtige tekens van ontwaking uit my hibernasie.

Ek was heel bereid gewees om trope toe te vlug gedurende die winter maande, maar iemand het my gewaarsku dat daar allerhande peste, siektes en gediertes is wat seer en dodelik kan byt. So toe bly ek maar in die koue winter binneland van die suidelike halfrond. Hier is mens al klaar blootgestel aan gewone kieme wat verkoues en vreemde infeksies kan veroorsaak. En ten minste slaap die slange hier gedurende die winter maande.

Net toe ek behoorlik in my selfverkiesing opgekrul lê, toe skud ‘n ander werklikheid my wakker. Ek lees dat mens geduldig moet wees in alle situasies (dus ook met winter), want God is in beheer oor alles en ons houding en gedrag kan ons vreeslik beïnvloed.

Ek sit en bekyk my winter verknorsing en besef ek het ‘n dak oor my kop, warm komberse, ‘n kaggel, elektrisiteit (as Eskom hou!) en ‘n warm bord kos elke dag.

Ek weet daar is talle mense daar buite wat onder kartondose beskerming teen die koue probeer vind. Ek weet hoe maklik ek oordeel en sommer besluit dat hulle druggies moet wees en dat dit hul eie toedoen is wat hul in hierdie benarde situasie geplaas het.

Maar wat weet ek nou eintlik? Is ons in ons warm gemaklike huise nie gestuur om ook en veral vir die druggies en die sonder heenkome te sorg nie? Dalk miskien net is dit daardie mens se beurt om van God se liefde te leer as gevolg van jou daad van liefde en genade. My winter verknorsing was ‘n vermorsing van energie op myself.

Daar is ‘n seisoen vir elke mens en baie keer leer die minder lekker seisoene jou om die lekker seisoene met mening te geniet. Ook om geduldig en tevrede te wees, om hoop te versprei en die liefde van ons liefdevolle Abba Vader.

Dis hoe mens die ‘wint” uit winter kan haal en dit in ‘n meer snoesige seisoen kan verander!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s