‘n Seisoen vir elke kledingstuk

Een keer per jaar verbeel ek my hoe klerekas beplanners hul hande in hul hare grawe totdat hul stylvolle kapsels verstrengel tot ‘n Einstein-haredos.

Sien, ek besef baie goed die probleem lê by my. Dis vermoedelik ‘n ongeneeslike toestand.

Ek is die persoon wat met ‘n kas vol klere sit waar meng en pas, eenvoud en minimalisme dit sukkel-sukkel maak tot oor my voordeur drumpel.

Dus, wanneer die seisoene verander en ek my klerekas skuif sodat die regte seisoen se klere in my kas hang, word daar met eerbied gedink aan al die goeie raad van klerekas beplanners en ek sug sommer baie diep. Mens weet wanneer jy tekort skiet.

Ek blaai deur my klere en verbasing klap my pienk deur die gesig!  Hoe sommige van die kledeingstukke in my kas beland het, sal selfs top forensiese sielkundiges laat kopkrap.

‘n Paar kledingstukke het wel ongesiens vir jare net saamgetoer tussen seisoenale kaste. Dis die sentimentele stukke, die miskien-gaan-ek-dit-nog-dra oudjies en die spesiale-geleenthede hangsels.

Maar daar is die kledingstukke wat ek my oomblik-van-swakheid klere sal noem. Een daarvan is die oosterse sloop rok wat mens maande ver swanger laat lyk, met die toerygstring op die bors, kompleet met klokkies en iets wat lyk soos antieke geldstukke. Dan is daar ‘n rokkie-ding wat duidelik gekoop is toe ek in ‘n vakansie luim was, plus drie kortbroeke waarmee jy my net op die strand sal vang. My kind sal na ‘n ander deel van die land verhuis, sou ek dit waag om daarin in ons tuisdorp te verskyn. Dis volgens haar nie ‘oumens’-klere nie.

Verder is daar die vrek duur tweed baadjie wat ek net een keer gedra het en beslis tot in lengte van dae in my kas sal bewaar en onder stof, hang die verbleikte fluweel baadjie wat al vir jare wag om na sy ou glorie gekleur te word.

‘n Paar swemdragstukies skaak my tot verwondering, want waar was my kop toe ek hulle in die koopmandjie gegooi het?

Tussen hierdie groepe is die verraderlike kledingstukke wat mens in die steek gelaat het tussen seisoene. Skielik sit hul bietjie knap aan die lyf. Gits, hoe maak die fabrieke deesdae klere wat so maklik krimp?

Die laaste groep is die klere wat gekoop is toe ek by my volle positiewe was. Dis die verantwoordelike, stylvolle en klassieke stukke. “Ta-da!” Ek wuif in die klerekas beplanners se ringting met ‘n swierlike curtsie. Daar’s enkele hoop vir my!

My uit-mandjie groei na ‘n berg. ‘n Denim wat sy stretch verloor het trek in ‘n boog tot bo-op die bed, tesame met ‘n paar skeef getrekte t-hemde. Sykouse! O genade! Die vismotte stel nie eens belang nie.

Dan kom die skoene aan die beurt. Dis is ‘n teer saak. Dis iets waarvan ek nooit genoeg kan hê nie, al sê Anna Wintour van Vogue wat en al rol sy haar oë agter haar donker bril en skud sy haar bob deurmekaar. My skoene is heilige grond.

My huishulp bekyk my bed en weet haar kleindogter gaan lekker spiëeltjie-spiëeltjie speel.

Die week na my uitgooi sessie, kom vertel sy my opgewonde dat haar kleindogter baie dankie sê vir al die mooi nuwe klere. Sy wil net nie die sykouse hê nie.

My kas bol dalk soos Madame de La Grande Bouche (die groot singende klerekas in Skoonlief en die Ondier), maar kyk nou net. Hierdie kas vol van verlede jaar se interessante kopies hou my lewe kleurvol en vol moontlikhede. Dink net hoe kan ek meng en pas met so veeldoelige klerekas.

Die sirkel van die lewe voel voltooi.

Rokkie, rokkie in die spiëel, wie’s die mooiste om te dra?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s