About

Hallo,

Van koekievorms tot flikvlakke.

Die beste manier om die lewe aan te pak is deur flikvlakke te maak. My geheim is dat ek geen idee het hoe om ‘n flikvlak te maak nie. Dus, maak ek maar ‘n flikvlak soos ek dink en basta met die res. Dis in elk geval die beste manier om die lewenswoestyn aan te pak – met jou eie gepatenteerde flikvlakke.

Verder is ek ‘n pajamas-met-sokkies mens. So gewoon soos enigeen as dit kom by my agter-die-voordeur-lewe. Jy weet ek kook, pak reg, maak skoon, ry skool toe en terug en ekstra klas toe en terug en so aan en meeste van die tyd dink die een wat rondgery word nooit aan ‘n dankie ma nie! Klink redelik normal, né?

Dankie tog dat mens baie meer as net die somtotaal van ons huislike lewe is. Al is jy ‘n professionele persoon met ‘n gewone of hengse werk of ‘n tuismamma, jy het mos drome, ideale, talente, en ‘n unieke persoonlikheid. Dis waar ons somtotaal inkom. Dis hoekom jy in staat is tot flikvlakke deur die woestyn. Moenie dat iemand jou reduseer tot ‘n nikswerd-niksdoenende tuismamma of eensydige werkende vrou nie. Jy weet jy is meer as dit – baie meer.

Gits, as mens in die beeld van God geskape is, is jy spesiaal en omdat ons almal so geskape is, is almal dan mos spesiaal.

Net vir ingeval jy nog gewonder het oor my flikvlakke in pajamas-met-sokkies lewe: Ek is ‘n ma van ‘n tiener en getroud met die liefde van my lewe. Lank gelede opgelei as ‘n sielkundige, maar is tans ‘n tuismamma en geniet dit baie. Dus is my lewe besig, uitdagend en opwindend – nes enige ander mens s’n.

My persoonlike droom is om iewers ‘n ‘n mooi koekievorm te druk in iemand se lewe of hart. As ek dit kan doen, is ek tevrede.