Dis in hul taal

(Ek vra by voorbaat omverskoning vir die gebruik van al die engels – dit is die terme wat gebruik word…)

  1. Vandag. Gewone dorp. Nie die big bad city nie!

So jy weet presies waar jou kind hom bevind. Veilig.

Maar, wat later die aand soos ‘n koekievorm ‘n ewige beeld in jou herinneringe gaan druk het, gee jou vandag nog rekmerke op jou brein.

Die voordeur klokkie lui en wat jy sien skaak jou gedagtes tot ‘n woordelose heelal. Jou kind hang voet-sleep-slap tussen twee van sy vriende.  Is hy dood? Hoekom hang hy so?

Sy vriende sê hul weet nie wat gebeur het nie. Hul het hom so slap-pap op die sypaadjie sien lê.

In daardie asemknyp nag glip beeld vir beeld soos in ‘n outydse skyfieprojektor verby jou. Het jy iets gemis in sy opvoeding? Moes jy hierdie nag verwag het?

Iewers, maande terug het hy gesê: “Party drugs is nie addictive nie.” Jy het hom probeer waarsku – iewers!

Die nag klop stadig verby. Hy hou niks binne nie en naderhand is daar niks meer wat uitkom nie, net sy liggaam wat ruk deur elke spasma. Met moeite dwing jy druppels water in hom in. Hy is so warm!

Nog ‘n skyfie flits verby. Hy was so hoogs geïrriteerd omdat jy bekommerd was oor die kuiers wat nie altyd na gewone tienerpret geklink het nie: “Almal doen dit, ma. Almal het net fun.”

En: “Nog niks bad het al gebeur met iemand by ‘n kuier nie.”

“Ek gaan nie die enigste lame person wees nie!”

Dan op ‘n dag het hy hierdie vreemde vraag gevra: “Weet jy wat is Molly?” Jy het eerlik gedink Molly is net ‘n meisie naam, maar dit staan vir molekule en is ‘n gekonsentreede vorm van Ecstacy. Dié gewildste party drug. Hoe de hel het hy dit geweet?

Is dit wat hierdie dodelike siek kind wat lappop stil op die bank lê ingekry het? Waar? Hoe?

Jy is eweveel bang as wat jy kwaad is.

Wag net dat jy wakker word mannetjie! Jy moet hoop jy word nie gou wakker nie!  Moenie doodgaan nie asseblief! Word asseblief wakker!

As jy nie daar was nie….. Hy kon verstik het! Hy sou homself nie kon help nie.

Word net wakker!!

Die onskuldigste kinders ken die name, wat dit is en wat dit doen. Hul weet van uppers (kokaïne, crack, ecstacy, tik, crystal meth, amphetamine en khat). Dit laat jou sterk en energiek voel en jy kan die heel nag kuier sonder moeg word!

Dan is daar die downers (heroine en middels wat jou slaperig maak soos mandrax sowel as verskeie verdowingsmiddels) wat ‘n gevoel van vrede, rustigheid en kalmte gee. ‘n Tipiese ry-die-deining-met-geen-bekommernisse gevoel.

‘n Partytjie of kuier loop nie net die risiko dat iemand dalk ‘n alchoholtjie kan insmokkel nie. Die risiko is al lankal daar verby.

Alcohol neem gewoonlik die voortou en begin eerste dans. Maar alcohol hou nie van solo dans nie. Marijuana word maklik die gewilde en goedkoop dansmaat met rook en vape wat nie muurblommetjies wil wees nie. Dis ‘n groepdans!

“Weed is nie ‘n drug nie. Dis so chilled. Dit help jou konsentreer!” Elke woord weergalm in die uitgeputte gange van jou brein.

Nee! Weed is nie ‘n veilige drug nie! Voor jy by mediese marijuana gaan draai, weet net – die wat op straat te koop is en in die hande van ons kinders land is nie mediese marijuana nie!  Dis waarskynlik gemeng met iets eenvoudig soos fyngemaakte disprin om ‘n langer ‘hoog’ te verkry. Om die waarheid te sê, jy weet nie regtig wat als in die pakkie gunja (marijuana) is wat jy op die hoek van die straat by die blommeverkoper kry nie. Statistieke bult oor kinders wat dodelik siek gehospitaliseer moes word na een ‘onskuldige’ hoog van dagga.

Ander ‘veilige’ vorme kom staan ook onskuldig voor jou kind met magiese beloftes van ‘n wonderlike tyd. Die ecstacy tablet het ‘n oulike  prentjie op en dis die mooiste kleure tablette. Piek, groen en geel pastelle. Hoe gevaarlik kan dit dan wees?

Nog ‘n gewilde gas in die ‘club’ familie is crystal meth. Beide voorspel hope energie, baie selfvertroue en ‘n wonderlike gevoel van euforie. Jou seksualiteit verskerp. ‘n Tiener droom word waar!

Hiermee saam stoom  ‘n ander ‘baie veilige’ een verby. Vape! Dis gekoester in klein houertjies wat soms ongelooflik baie soos ‘n doodgewone pen lyk en word verkondig om meer gesond te wees as rook. ‘Phew! Dankie tog.’’

Nee! Dis rook in vloeibare vorm. Dis chemise mengsels van somtyds onbekende herkoms – wat dink hulle? Behalwe vir spesifieke geure soos byvoorbeeld kersie geur, weet min wat werklik ge’vape’ word, want die dingetjie gee nie beduidende reuke af nie. Iemand kan langs jou staan en vape met ‘n bietjie weed en jy sal dit nie besef nie. Die onseker oudjie by die kuier kan sonder ‘n ID by ‘n vape of Adult winkel ‘n love middel (gewoonlik ‘n mengsel van marijuana of iets soos ecstacy) koop. Maklik!

Hy het eers teen 11 uur die volgende dag begin wakker word. Waar sy geheue moes wees was daar net een groot swart diepte van niks. Hy het ‘n brandewyn en coke gedrink. ‘n Ouer man het met hom gesels en iets gesê van dat hulle gaan les opsê. Het dit werklik met jou kind gebeur, hier op ‘n plattelandse dorp? ‘n Date rape drug?

Dan kom die crash. Die verkopers/verspreiders van die ‘veilige’ middel het toe nooit verduidelik van die crash die volgende dag nie. Die afkom van ecstacy is vrek onaangenaam en kan ure lank voortduur. Jy voel so dood-sleg, diepste-donker selfmoord depressief! Vir ure is jou liggaam in pyn, uitgeput en totaal gedehidreer. Nee, niemand het vertel dat die crash jou lewe kan beteken nie en ook nie dat dit so sleg is dat jy net weer so pilletjie of poeiertjie in die hande MOET kry om uit die diepste depressie en aakligste psigoses moontlik te ontsnap nie. Een keer se gebruik kan ‘n oordosis wees, die twintigste of honderdste keer kan ‘n oordosis wees. Jy sal nooit regtig weet nie!!

Ons kinders se kuiers ruik na shebeen! Hoeveel waarskuwingsligte het ouers nodig om te begin reageer?

Jy sê: “My kind weet om nee te sê.”

Nuusflits! ‘n Tiener weet somtyds nie eens hoekom hy of sy nee MOET sê nie.

Ons kan maar hoop dat ons kinders net deurmekaar raak met normale tiener pret, stoutighede en miskien ‘n skelm drankie! Die duiwel se tande is egter diamant-blink-skerp geslyp vir die blootgestelde geaardheid van ‘n nuuskierige kind.

Luister mooi! Hul woorde, sinne en terme is ons inligtingsbron tot in die ondersoekende wêreld van ons kinders. Reageer gou!

Dis in hul taal. Hul het jou meer nodig as wat jy dalk mag dink.

************

Met dank aan:

  • ‘n Dierbare vriendin vir die toestemming om hul nagmerrie nag as gevolg van ‘n drankie wat gedokter is, met jul te kon deel. Haar wens is dat dit ander ouers sal help.
  • ‘n Kliniese sielkundige en Jeug werker (wat die verwoestende gevolge van dwelmmisbruik daagliks sien), vir hul inligting en opregte omgee in die stryd om ons kinders veilig te hou.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s