Hoe eenvoudig is dit nie?

“Die hospitaal is al toe, maar die kerk is altyd oop, mevrou.” Dis 4 uur op ‘n Donderdag middag.

Natuurlik het ek en my familie bietjie gegiggel daaroor. Waar ons vandaan kom is die hospitaal altyd oop en die kerk net sekere tye.

Die oop-kerk het aan die bopunt van ‘n stofstraatjie gestaan. Die hospitaal was toe.

Mens moet ‘n hele paar kilometers aflê om by die oop-kerk dorpie te kom. Van Citrusdal se kant af kronkel jy bergpas op, hoër en hoër tot bo-op die berge. Al hoppend en klouend oor klipperpad. Oral staan asem-snak rotsreuse asof spesiaal uitgepak vir elke kunsfotograaf, natuurliefhebber en gewone reisende bewonderaar van enigiets mooi.

Die omgewing is onbeskaamd eerlik. Soos ou hande van jare se harde werk, sien mens elke plooitjie, litteteken, gleufie, sonvlekke, dun vel, knobbel vingers en naels wat kort, maar grof is. Net so wys hierdie wêreld elke groef, dooie plant, swart stomp, droë stof plaat en son klip soos dit oor jare der jare gevorm is deur die natuur se eie skeppingshande.

Na ‘n paar uur se geskud bereik ons dié kruising. Voëlvlei reguit aan en Eselbank en Wupperthal links. Bietjie laer af van die bordjie is ‘n klein wit driehoekige bordjie staan gemaak met die woorde: “24H Recovery” en ‘n selfoon nommer. Dan is ons nou by die die 4×4 pad waarvan almal ons vertel het. Slegte pad. Ek wonder: Kan dit enigsins slegter wees as die klappertand stuk pad tot hier?

Wupperthal se pad was nie bang maak-erg 4×4 nie, maar die pad skud alles wat vas is los daar waar jy as passesier klou aan jou sitplek en selfbeeld. Growwe reuse rotse beskou jou vreedsaam uit die hoogte – asof hul wil sê hul het al alles gesien.

Dan soos ‘n kersverrassing verskyn Eselbank oase mooi en gekoester in skurwe berg arms. ‘n Skaam rivierlopie sluip lui-lui deur die gemeenskappie. Kinders hardloop vrolik in die stof straat asof daar geen ander lewe bestaan nie. Hul poseer met kinderlike vermaaklikheid soos top modelle toe hul sien ons neem fotos.

Die ouer mense sit op hul stoepe in koeltes van baie ou oorhang dakkie-bome. Hul kyk ons onbetrokke aan en dink waarskynlik: “Nog ‘n nuuskierige toeris…” Of “Nog ‘n sot wat dit waag om die tyd van die jaar hier te kom vakansie hou.” Hierdie hitte is nie vir gewone mense gemaak nie.

Dik soos die warm lug hang die vrede om ons.

Hier en daar is klein rooibostee landjies. Hoe interessant is dit nie dat die uitsonderlike wêreldberoemde rooibostee besluit om net hier en nêrens anders in die hele wye wêreld van habitatkeuses besluit om te gaan staan en groei nie? Die reuse rotse loer my met diep fronse aan. Wie is ek om te oordeel? Dis hul geheim en hul sal dit vir nog eeue bewaar.

Aan die einde van die dorpie, kabinet ‘n groepie donkies saam. Soos geheime agente hang hul bymekaar rond sonder om te lyk of hul kommunikeer. Hul staan net. Soos legkaart stukkies pas hul in die omgewing in. Asof die growwe berg, die seldsame plante, die beskeie donkies en hul simbiotiese bestaan saamgevoeg is toe die aarde nog nuut was. Hul praat saam aan ‘n taal wat net deur die wat daar woon verstaan kan word en wat deur die rotsreuse beskerm word. Jy, die indringer, die besoeker, bly net die besoeker.

Verby die huisies en donkies kry ons ‘n plaashek waardeur ons moet ry en wat toegemaak moet word agter ons. So vat ons bergpas af na die oop-kerk dorpie.

Dis warm, die wind kolk die hitte rond. Die Sederberge sorg dat jy hom verdien.

Jy kan nie Wupperthal mis ry nie, want jy moet so half in die dorpie in om weer daar uit te kom. Wipperthal Bakery & Food Store (Coca-Cola) is in wit op ‘n rooi bord langs die ‘n deur van die winkel wat by ‘n uitgedroogde plein staan, aangebring. Binne is daar nie ontelbare voorraad nie, maar darem genoeg koeldrank en skyfies. Die bakkery-deel is nie vandag op die spyskaart nie.

“Dis nie blomme tyd nie.” Sê die vrou by die kasregister asof sy my gedagtes gelees het oor die slapende bakery. Min besoekers is gelyk aan toe bakery.

Sy vertel my van die oop kerk. Sonder dat ek vra sê sy: ”Die Here help ons.” ‘n Bybel lê oop op haar tafel.

Omdat ek maar eenmal nie kan wegbly van klein dorpie kerkies nie, oortuig ek my gesin om te gaan kyk. Die kerkie verwelkom ons oop, koel, wit en nederig. Dis al asof die omgewing toestemming gegee het dat die gebou hier mag staan as deel van sy natuur: ”Hier mag jy staan, jy mag deel wees van ons, want jy dien ons Skepper.”

Wat is dit aan hierdie onherbergsame wêreld wat altyd my hart steel? Wat besoekers oor die wêreld heen hierheen trek, maar nooit hier hou nie? Is dit die onbeskaamde opregtheid daarvan? Die feit dat jy weet dat moderne tegnologie nog nie daarin kon slaag om hier oor te neem nie?

Om hier te bly moet uitdagings verg waaraan ons ‘city slickers’ nooit eens ‘n tweede gedagte gee nie. Byvoorbeeld, net die tyd wat dit sal neem om op Clanwilliam te kom. Wat as jy vinnig daar moet kom? Sê nou die kliniek is toe en iemand word ernstig siek of dit reën nooit of dit reën baie en die rivier oorstroom sy walle? Hoe oorleef die mense wat deur hierdie berge toegelaat word om te bly? Skryf jy een of ander oorlewingstoets, of moet jy eenvoudig van hier wees om hier te kan oorleef?

Moontlik, net moontlik is dit omdat die kerk oop is en die hospitaal toe. Wie sal dan nie kan oorleef in ‘n ruwwe ongenaakbare wêreld nie, as jou hart oop is vir jou Skepper soos die eenvoudige oop kerkie in ‘n onherbergsame samelewing?

Hoe eenvoudig is dit nie!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s