‘n Ferm wagwoord kort ‘n sterk handdruk! Of nie…?

Gewoonlik is GOOGLE net ‘n kliek weg om my “how too’s” te beantwoord. Jy weet tegniese vragies oor rekenaar goeters en apps en so aan. Ek is dus net gedeeltelik tegnologies gestremd.

Maar GOOGLE het sowaar nie altyd die antwoord nie, veral nie as jy probeer om digitaal in te teken op iets nie.

Soos nou die dag toe ek probeer het om digitaal in te teken op ‘n tydskrif. Goeie aarde! Dit beslaan ‘n vraelys wat herinner aan ‘n huisleningsaansoek. Hou jou min of meer ‘n halfuur besig en jy moet sorg dra dat jy niks mis invul nie, veral nie waar die rooi (*) tekentjies is nie. Alhoewel…. al is daar nie ‘n asterisk teken nie, vul liewers alles in. JY SAL ALLES INVUL, want die spulletjie hak net vas by die boodskappie wat sê jy het nie al die velde ingevul nie.

Die grootste, uitdagendste en frustrerendste deel kom egter by die opstel van jou password of wagwoord (in goeie Afrikaans). Ek is seker ons het almal ‘n storietjie of twee hieroor te vertel.

Die liewe stelsel is met niks tevrede nie. “Your password is not strong enough….” Jy kan lettertjies, hoofletters, syfertjies en tekentjies gebruik soos jy wil, maar die #@&!!$%# (onliewe!)-stelsel trek sy neus op vir al jou probeerslae. Naderhand behoort antieke Medusa al jaloers te raak, want jou brein-sinapse bokspring meer as haar slange haredos, al bultend op jou kop soekend na die ideale, sterk genoeg wagwoord.

Die ergste is egter: Wanneer MANLIEF  uit meegevoel by jou oorneem (hy kan sien jy buig nou al al jou vingernaels om soos jy daai sleutelbord kap) en ewe doodluiters vir jou sê: “Ek het die password as ‘tra-la-la.’

Net so! Tra-la-la en jy het ‘n wagwoord. Moet seker ‘n vroulike stelsel wees dat sy so maklik SY wagwoord as ‘sterk’ genoeg aanvaar. Ek rol sommer my oë daaroor.

Na die hele petalje is jy gereed om te bestel en te koop of wat ook al. Jy bêre die gebruikersnaam en wagwoord op jou foon onder Notas, want jy weet jy sal nooit weer daardie ingewikkelde wagwoord onthou nie en jy het reeds sekerlik twintig verskillende wagwoorde vir verskillende goed wat jy ook moet onthou.

‘n Maand of wat later, wil jy weer iets doen of koop op daardie ‘site’ van die vroue tydskrif. Dis toe dat jy agterkom dat tegnologie nie net ‘n hulpmiddel is nie, maar ‘n frustrerende hulpmiddel.

Jou ongeluk so sterk soos jou wagwoord!

Your username or password is incorrect.” My tong het sommer net daar verdroog soos ‘n parkiet s’n oor my mond oop hang van verbasing. Werklik?!

Jy gaan na jou notas en maak seker. Met verkleurmannetjie oë kyk jou een oog op en die ander regs om sekerder as seker te maak. Jy het beslis elke lettertjie, syfertjie en tekentjie reg ingesleutel.  Jy probeer weer, maar nee, die oudjie hou hardkoppig vol dat een van die twee verkeerd moet wees. Uit radeloosheid besluit jy om maar op Forgot password? te kliek.

Heel stemming en ordentlik kry jy ‘n boodskap dat hul die nuwe wagwoord na jou epos adres sal stuur. Maar ‘n sekonde later kry jy nog ‘n nog ‘n rooi boodskappie: Your email address is unknown.

Wat weet hulle? Ek gebruik hierdie epos adres al seker vir tien jaar of meer, maar die @#$%&**% (frustrerende!)-stelsel sal my vertel hy ken nie my epos adres nie, na die @#$%&**% (dom!)-stelsel dit al vorige kere reg gekry het om hierdie epos te gebruik.

Uit skone kokende viesgeit maak ek die ‘site’ toe en staar ‘n oomblik na die rekenaar asof ek wil seker maak dis regtig myne en nie ‘n vreemdeling s’n nie.

So vertel ek my man daardie aand van hierdie @#$%&**% (onaangename!) gebeurtenis en dat ek sommer lus het en bel die mense en sê hulle moet bykom, want hul stelsel is pateties.

Hy kyk daarna, vra my my gebruikersnaam en wagwoord, tik hier en kliek daar en siedaar….! Ek is in!

Hierdie ‘site’ moet beslis van my man hou. Dit is ‘n vroue tydskrif!!!! Seker te verstane dan. Volgende keer doen ek my voor as my man!!

Dalk, voel die sleutelbord aan dat iemand harder tik en stuur dan ‘n boodskap aan die program dat hul hier met testosteroon te doen het en as hul nie moeilikheid wil hê nie, moet hul net nou saam werk. Jy weet mos mans raak somtyds so effens aggresief as rekenaars en selfone nie wil saam speel nie….

Ek wonder maar net hoe bevooroordeeld hierdie programme regtig is? Dalk moet ek ‘n veldtog teen sulke diskriminasie begin.

Of dalk….tel my semi-geletterdheid teen my?!

Laat ons nou nie daaroor uitbrei nie. Die punt is dat tegnlogie op sy beste die slegste in jou kan uitbring. So al wat ons kan doen is om soos die pikkewyne van ‘Madagascar‘ net te smile and wave en te hoop daar is iemand (selfs vriend Google) wat wonderwerke op jou rekenaar en selfoon kan verrig!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s