Tot op die heel laaste oomblik, ’n kans.

Eendag was daar mense. Hulle was baie. Omdat hul mense was, was hul met amper niks tevrede nie.

Een sal sê: “Dis te warm,” ’n ander: “Dit reën te veel,” en nog ’n ander: “Kom ons leef eerder in die nag, die son is nie vir ons nie.”

Hulle het egter nie net oor die weer gekla nie. Elke onderwerp was ’n potensiële meningsverskil. Om na mekaar te luister het in ’n vergete sfeer rond gesweef.

Daarom was dit onvermydelik dat almal oor alles gestry het. Heeltyd.

“Ek is ’n vrou. Ek het te min regte in die werkplek en ek kan alles net so goed doen soos ’n man. Ek gaan my bra verbrand om julle te wys.”

Sommige mans het terug gekap: “Ek is ’n man en ek is sterker as die vrou. Ek gaan hulle met my krag wys.”

“Nee,” het ‘n ander groep geskree, “Wat ’n verouderde begrip is geslag. Jy moet self kan besluit wat jy wil wees. Dis tog elkeen se goeie reg.”

Iewers in die skare het ’n iemand gesit en skaam kry, omdat hy nie dieselfde voel nie, maar sy gedagtes was net nie nou die in ding nie.

Iemand het opgestaan en gesê al hierdie dinge maak nie saak nie, ons moet die oseane red.

“Die oseane?” Het nog een verontwaardig geroep. “Nooit, wat van die arme vrugte wat mense so verorber? Vrugte het nie eens die reg om self te sterf nie.”

“Vrugte? Hoe verregaande is dit? Nee, ons moet die bome red. Ons roei hulle uit vir geboue en skryfbehoeftes en waar gaan ons suurstof vandaan kom? Red eerder die bome. Dis tog belangriker.”

’n Stem het vererg gebulder. “Wat van al die diere wat geëet word? Mense roei die diereryk uit.” 

“Dis nog niks, hoe kan mense wilde diere wat vry moet wees in die natuur, in klein hokkies gevange hou? Net sodat mense hul kan vergaap aan die arme diere? Dis wreed, die wreedste wreed.”

“Wel, ek bly in die stad, hoe anders moet ek diere sien?”

’n Vreeslike kabaal het aanhoudend bly losbars oor soveel verskille.

Die mense het so gestry dat hul mekaar nie meer kon hoor nie. Hulle was doof en tog het hulle nie ophou stry nie.

Intussen het die mense, elkeen op sy eie manier aangegaan met hul lewens. Sommiges bly in klein kamers, ander op straat. Party het gewone huise en nog ander bly in paleise en kastele teen berghange met lang opritte. Party werk vir hulself en ander vir ander. Party haat werk en ander steel eerder om te oorleef. Daar is die wat net werk omdat hul moet en die wat nie meer weet hoe dit voel om te ontspan nie. Daar word baie gekla. Sommiges word uitgebuit.

Die meeste probeer teen ’n leer uitklim om bo te kom. Maar die leer is so vol mense dat baie af val en weer onder moet begin.

Om te ontsnap gooi sommiges hope pyn- en slaappille in hul kele af of drink hulself in ’n kortstondige bevryding in. Hulle bly sleg en siek voel. Hulle rook mensgemaakte filters, snuif chemiese stoffies en slaap met elke beskikbare persoon.

Slim, die kroon van hierdie skepping. Hulle het altyd ’n plan.

Maar, almal is moeg. Almal besef dis ’n siek, siek wêreld en niemand weet hoe om dit gesond te maak nie. Daar is baie teorieë, baie planne, baie navorsing, baie sprekers en hope helers. Min oplossings.

Die aarde het uiteindelik haar kop geskud en gehuil. Sy het soveel pyn gehad en gesukkel om asem te haal. Toe gaan kla sy by die heelal.

Die heelal het na haar probleme geluister en gesê: “Ons het die mense al soveel kans gegee om alles reg te ruk, maar hulle baklei net die heeltyd en leef nie eens tot hul eie voordeel nie. Ons stuur vir jou ’n klein groen goggatjie.”

“’n Klein groen goggatjie?” Die aarde was onthuts. Sekerlik moes daar iets groter wees om die gemors op te los.

Die heelal was egter seker: “Die goggatjie gaan mense na hul huise toe jaag. Dit gaan families bymekaar bring. Daar sal hul tyd hê om oor hulle sinnelose lewens na te dink. Toegegee, daar sal dood, armoede en ellende wees, maar dit was nog altyd daar. Tog, vir die eerste keer in jare gaan die mens stil word en nie oor nietighede baklei nie. Baie gaan uitroep na die God van wie hul vergeet het of wie hul nie eens geken het nie.”

Die aarde het egter gekeer: “Maar ek kan dit nie toelaat nie. Ek moet die mense beskerm. Dis my werk!”

“Toemaar,” het die heelal getroos: “Mense is baie slim. Hul sal leer om die gogga uit te roei. Hulle gaan besef dat hul mekaar nodig het en uiteindelik vir mekaar begin omgee.”

Die aarde was steeds onseker. Sy ken haar mense: “Maar dis seker net op ’n ideale aarde moontlik?”

Tog het die heelal volgehou: “Jy, liewe aarde, gaan nou bietjie kan rus. Want, die groot fabrieke sal staan of stadiger werk. Die lae besoedeling sal die vlugtende, verstikkende diere terug bring. Dolfyne sal huppel in dier-verlate oseane en die voëls sal weer sing in stede waarna hul jare reeds nie meer kon gaan nie.

Op die ou einde gaan almal besef dat alles net oor liefde gaan. Alles en almal smag na liefde. Liefde vir mekaar, liefde vir hulself en liefde vir die aarde. Vir ’n rukkie, sal daar vrede wees. Die mense gaan sê die koms van die klein groen goggatjie het hulle gered van gewisse uitwissing.”

“Maar,” het die heelal bygevoeg: “Dit sal ongelukkig net duur totdat die groen goggatjie klaar sy werk gedoen het. Soos al oor eeue heen bewys, vergeet die mensdom gou waardeur hul moes gaan om te oorleef. Hulle gaan weer begin stry en baklei oor nietighede, uiteenlopende sienings, mors en minag. Tog sal daar ’n paar mense wees wat altyd sal onthou dat alles en almal skree om liefde. Dat liefde al is wat die mensdom nog altyd deur elke krisis gedra het.”

Die heelal het toe omgedraai en die groen goggatjie losgelaat op die aarde.

(Foto krediet aan: “The patient earth is sick…” – Keith Jackson and Friends)

8 thoughts on “Tot op die heel laaste oomblik, ’n kans.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s