Op ’n piesangskil

Hoekom sal mens nou aspris op ’n piesangskil wil gly? Jy weet mos jy gaan jou alie af val.

Maar somtyds is dit goed om op daardie piesangskil gly, want dan het jy niks anders om aan vas te hou as gebed nie.

Op ’n piesangskil verdwyn alle verwaandheid, koppigheid, moedeloosheid en rigtingloosheid. Jy het nie ’n saak wie jou sien, of hoe jou hare lyk, of hoe polities korrek jy optree nie. Al wat jy weet is dat jy gly en hulp nodig het.

Op ’n piesangskil en in gebed land jy op die glybaan van geloof.

Ek dink ons as ouers behoort gereeld op ‘n denkbeeldige piesangskil te gly, want ons kan ons so erg bekommer oor ons kinders. Die bekommernisse is legio: Is my kind gelukkig? Hoekom word hy/sy geboelie? Wat het ek verkeerd gedoen? Is ek ’n slegte ouer? My kind het verkeerde vriende. My kind is die verkeerde vriend. My kind is op ’n verkeerde pad. My kind is in ’n toksiese verhouding. My kind is met dwelms deurmekaar. My kind glo nie aan God nie. Ensovoorts, ensovoorts.

Op ‘n denkbeeldige piesangskil besef ons ons is nie in beheer nie, maar God is. En al weet jy nie hoe lank, hoe ver en hoe erg dinge gaan raak nie, weet jy dat Hy in beheer is en al daardie dinge weet.

Jericho Walls bied ‘n skatkis van praktiese riglyne vir gebede vir ons kinders:

  1. Bid gereeld vir jou kinders.
  2. Seën jou kinders gereeld.
  3. Bid God se skeppingsdoel vir hulle toe.
  4. Bid vir jou kinders op grond van God se beloftes. Nie op grond van wat verkeerd is in hul lewens nie, of jou eie verwagtings nie. God verbind Hom om Sy beloftes waar te maak.
  5. Glo.
  6. Moeie bitterheid of onvergewingsgesindheid toelaat nie. Vra God vir onvoorwaardelike liefde ten spyte van jou kind se optrede.
  7. Bespreek jou kinders eers met God voor jy vir ander raad vra.
  8. Moenie jou kinders voor God aankla nie. Jou werk is om as priester voor God te staan en te pleit vir hulle. Onthou die duiwel is die aanklaer.

Onthou jy kan nie jou kind se hart verander nie, dis die Heilige Gees se werk. Jy kan net die voorbeeld wees en hul die regte lesse probeer leer. Wees onvoorwaardelik lief vir hulle.

Gelukkig is dit nooit te laat om vir jou kind te begin bid nie. Al voel jy jy het as ouer gefaal, of jou kind is reeds te ver heen. Al is hul klein, al is hul onmoontlike tieners, of wildewragtig-studente, mallemeule jongmense, verliefde saamblyers, jonk getroud, oud getroud, in ‘n slegte of toksieseverhouding, die verkeerde beroep, of al is hul al ouer as 50 jaar en self al ouma of oupa. Hou aan bid en glo.

Klim op die piesangskil van geloof en gly in die arms van God in.

3 thoughts on “Op ’n piesangskil

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s