’n Goeie tyd om ’n ballerina te word

Kyk nuwejaarsvoornemens is darem nie net sleg, of onbereikbaar, of onmoontlik, of plein stupid nie. Dit hang seker alles af van wat jy voorneem en wanneer. Dalk is net voor die klok oorslaan op 31 Desember nie altyd die beste tyd om volhoubare voornemens te maak nie.

Aan die ander kant is Januarie maar ‘n riskante maand as wegspringblok vir nuwe voornemens. Hierdie maand lyk meestal soos ’n woestyn met duine van uitgawes. Jyself moet ook eers weer in ‘n werkbare ritme kom. Geen wonder soveel voornemens sneuwel reeds so vroeg in die jaar nie.

Dis veel beter om voornemens te skuif na Februarie toe. Dalk selfs diep Februarie, wanneer nugterheid van denke onlogiese voornemens soos sterre laat verskiet.

Februarie is die tyd om daardie verborge, vergete, onder-alledaagse-werksdruk-verlore-drome en -talente te gaan uitkrap.

“Met watse tyd en geld?” Mag mens dalk vra.

‘n Logiese en oeroue verskoning. Geld en tyd. Alle drome kos nie geld nie, dit kos somtyds net passie en uithouvermoë. En tyd. Ons almal ken die kwessie van tyd. Want meeste mense moet werk, ’n huishouding behartig, skrop en kook, kinders bad, help met huiswerk, doeke ruil, inkopies doen en elke siel in jou huishouding rondkarwei, en gewoonlik nie in een rit nie. Sekerlik kan daar iewers in ‘n week ‘n me-time plan gemaak word.

Of miskien sit jy op jou stoep en wonder wat om met jouself aan te vang. Dalk dink jy jy is te oud om met jou droom te begin. Nola Ochs het op die ouderdom van 95 ‘n universiteitsgraad verwerf! Ouderdom is dus nie ‘n aanvaarbare verskoning nie.

En siekte? Ek het ‘n vriendin wat aan spierdistrofie ly en sy besoek siekes in hospitale – in haar rolstoel. Sy maak kaartjies, reik uit na karwagte en bemoedig almal met haar lewensvreugde.

Het jy al agter gekom dat daardie talent of droom van jou nie juis ophou klop aan jou siel nie? Of jy dit nou ignoreer of vergeet, dit bly altyd in jou, om jou en langs jou soos ‘n lastige muskiet. Dis om die waarheid te sê nie nuwejaarsvoornemens nie, maar eintlik herinneringsfakture. Skuld wat jy nog aan jouself moet betaal. Anders bly jy ’n halwe mens.

In The Lion King word gesê: “It is time.”

Dis tyd. Maak tyd, maak ’n plan. Jou droom gaan in elk geval nie sy tekkies aantrek en weghol nie.

Elke mens is, alhoewel ons almal soos mense lyk, maar eintlik vreeslik uniek. ‘n Stukkie uit www.sitaandieketel.co.za praat juis oor ons uniekheid as mens en sy sê iets onbetwisbaar: “… hoe kan ek ooit wonder of God ’n fout gemaak het met my neus?” Sien, soos sy tereg sê, jy is lank terug spesiaal gevorm en elke deeltjie van jou is uniek. Met die gevolg dat jy God beledig as jy jouself vergelyk met ander of dink jy is nie goed genoeg nie. Veral om nie jou drome en talente na te streef nie.

Mens wil nie aan die einde van jou lewe kom en sit met ’n komposhoop vol: “Ek moes maar; Het ek tog maar; Ek wens ek het,” nie.

Tussen elke dag se kwarrie-warrie omstandighede moet daar iewers ‘n broodnodige tyd uitgekerf word vir wie jy is. Miskien is jy altyd moeg, het ‘n swaar innerlike gemoed, sleep moedeloos voort en dan is daar die alomteenwoordige verantwoordelikhede. Maar om dit alles in balans te bring is dit noodsaaklik om te luister na jou drome en talente wat gedurig zoem vir aandag.

Dis tyd om lig te word. Om soos ‘n ballerina ligvoets te leer sweef tussen verantwoordelikhede deur. Jou talente en drome, wat meestal voornemens is, maak jou lig. En heel.

Diep Februarie is ’n goeie tyd om in ’n “ballerina” te verander.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s