Her+set+knoppie=

Ek het altyd gedink dat my ouma en oupa se plaas die paradys was. Daar was nie ‘n mooier plek wat ‘n lekkerder gevoel in my opgewek het nie. Daar was altyd werk, maar baie vryeheid en vreugde. Soggens het ek oor die teerpale van die beeskraal gehang en nie omgegee dat ek ruik na stof, teer en beesmis nie. Later het ek gespeel tot ek honger was. Of ons kinders het saam met my oupa gaan hout soek in die veld met die trekker en sleepwa. Intussen het my ma en ouma seker gedoen wat hul moes doen in die huis. Ek was te klein om daaroor te wonder. Ek onthou net dat die geure uit daardie warm koolstoof kombuis altyd beter was as enige ander geure uit ander kombuise. Jammer, ek raak nou bietjie verlore op my onthou uitstappie. Wat ek eintlik wil sê is dat ek nou verstaan hoekom die oumense, soos ons hul altyd genoem het, so vroeg kon gaan slaap en so lekker kon slaap. My oupa het beslis balke gesaag vir die eerste span. Ek het die afgelope weke sonder my liewe huishulp en tuinman moes reg kom. Soos meeste van ons. En ek moes my skootrekenaar meer kere verruil vir ‘n stoflap, stofsuier, strykyster, ’n grafie en snoeiskêr. Skielik slaap ek soos ‘n baba wie se magie vol en die winde uitgevryf is. Iets in hierdie arbeid het my so goed laat voel. Die gejaag van elke dag het verdwyn. Ek was wel nie altyd lus vir die huis- of tuin werk nie, maar saans wanneer ek gaan slaap het ek tevrede gevoel. Op ‘n manier het dit my weer gegrond. Die oumense het dit dalk nog al die tyd reg gehad. Terwyl ons moontlik die toekoms sien in stadsliggies, vinnige karre en adrenalien beroepe, het ons moeg geraak. ‘n Moeg wat mens snags wakker hou. Meeste van ons móét werk. Moet geld verdien. Meer geld is gelyk aan meer luukshede, dalk die gevoel van geld-veiligheid. Dis nodig om te weet jy het geld vir kos en jou daaglikse onkostes. Maar somtyds sink mens weg in versugting. ‘n Versugting dat meer jou sal verseker van ewige werk-lewe-balans. Tog, hierdie werk-lewe-balans maak mens dan moeg. Dis nie ‘n lyf moeg van harde werk nie. Dis ‘n siel moeg. Die naam van die moeg: Stres. Hoeveel van ons staan nie elke oggend op met ‘n groot opsien na die dag nie? Te moeg om te slaap en te bang vir slaap, want môre word dieselfde deuntjie weer gesing. Siel moeg kan verander na ‘n lekker moeg. Gaan bekyk weer die basics, die eenvoudige en ongekompliseerde. Jou oorspronlike plan. Dis soos ‘n herset knoppie. Ek weet baie mense werk nog, al is dit van die huis af. Ander het meer stres omdat hul veg in die onsigbare wêreldoorlog, die Covid-19 virus. Nog sit nou sonder inkomste met opgehoopte onrus in hul harte. En nog ander is dood tevrede met hul werk en lewe soos dit is. Daar is baie redes en talle scenarios. Die herset knoppie is egter op ons almal van toepassing in ‘n tyd soos hierdie. ‘n Nabetragting oor ons lewens en in watse sinnelose deurmekaarspul dit moontlik verval het. Of dalk was jy gelukkig. Die aarde bring mens aarde toe. ’n Nuwe venster op ‘n outydse tipe vervulling en ‘n waardering vir die lewe en wat saak maak. Ek weet dat ek hierdie tyd ten beste wil gebruik, want soos ons almal weet, is die enigste konstante dat verandering onvermydelik is. Die wêreld het letterlik tot stilstand geruk en ons het nou die kans om die herset knoppie te druk en die ewige moeg te heroordeel.

2 thoughts on “Her+set+knoppie=

  1. Ek vra net omverskoning vir die feit dat wordpress een of ander opdatering gedoen het. Nou en is daar geen paragrawe nie, al doen ek wat.
    Dus moet almal seker maar hul verbeelding gebruik i.t.v. paragrawe. 🙄
    Jammer daaroor!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s