Vir jou ‘n droom

Ten spyte van al die regpak, uitpak, weggooi en skenkings, het die gedroggie erg gerimpel en met ‘n stingel aan, ongesiens deurgeglip. Dit meen dit was eens op ‘n tyd lewend gewees, iewers laat in 2019. Vermoedelik ‘n appel, wat gereeld en later vergete in die skooltas saam gepiekel was en elke keer onaangetas huis toe gekom het. Tot nou toe. Januarie 2020.

Vanoggend ontdek ek ‘n swerm vrolike muggies rondom die vrugtebak met lemmetjies. Iemand… het ‘n lemmetjie oop gesny en besluit die beste plek om dit te bewaar, is tussen die ander lemmetjies in die bak. Natuurlik vir latere gebruik.

Ek loop verby ‘n uiters netjiese kamer. Bed opgemaak, geen kledingstukke op die vloer nie en geen skooltas wat bultend wag om oopgemaak te word nie.

En dis stil.

Maandag skarrel ek deur die supermark en steek my hand oudergewoonte uit na ‘n pak Tim Tams. Haar gunsteling koekies.

‘n Vriendin sê ons moet gaan koffie drink en ek begin in my gedagtes bereken hoe laat die skool uitkom en wanneer ek oral en elders moet wees.

Jy het reg geraai. Ek is die vars mamma van ‘n kind wat pas klaar matriek geskryf het.

Die eienaar van die gerimpelde appel in die skooltas, die gesnyde lemmetjie, die uiters netjiese kamer en die liefhebber van Tim Tams, het verhuis. Na oorgrens tyd, universiteit tyd, koshuis- en ‘Ek kan self, Ma’-tyd.

Ek ly egter nog aan roetine. Die gewoonte om my lewe te beplan rondom my kind. 18 Jaar van ouder gewoonte ouerskap, is net so: ‘Kaboem!’ Verby. Dis asof my oë in my kop omgedraai het en nou vir my kyk met: Wat nou van jou?

Ek voel bietjie soos iemand wat weer moet leer loop.

Maar ek het ‘n plan. ‘n Nuwe droom, vir myself.

Ja, ek verlang. Na die asempie wat woelig deur die huis kon huppel, of strompel onder die wisselvalligheid van tiener homone. My hartsmensie wat torings vuil bekers, glase en borde in haar kamer kon versamel en die wasgoedmandjie nonchalant mis kon gooi.

Sy, die een wat my blootgestel het aan flieks wat ek nooit self sou gekies het om te kyk nie en musiek wat nie in my wêreld bestaan het nie. Praat van ‘n leerskool. Sy het my baie geleer.

Vir haar het ek ook ‘n droom. ‘n Droom van drome wat bewaarheid word en doelwitte wat bereik word. Van vreugde, veiligheid, liefde, genade en voorspoed. Van hard werk en baie lag. Van weet dat die lewe somtyds gerimpelde appels en vrot lemmetjies oplewer, maar as jy dit uithaal, raak als weer reg. Die skoonmaak proses kan dalk bietjie morsig wees. Tog, daar is altyd ‘n nuwe begin.

Hou uit, hou moed en onthou om te bel. Elke ma verlang na daardie: “Hallo Ma…”

Hierdie nuwe fase is nog in voel-voel tyd, maar vol nuwe opwinding met ou en nuwe drome.

(Onthou net om seker te maak daar is nie verlore appels in sakke nie en bêre die gesnyde vrugte in die yskas.)

7 thoughts on “Vir jou ‘n droom

  1. Dis n nuwe tydperk in biede van jul lewes. Jy sal nog baie kere na die Tim Tams gryp vir ingeval. Dis n groot aanpassing. Is sy in dieselfde dorp of stad op universiteit of liewer hoe ver is jul van mekaar af? Die band van vriendskap en liefde sal altyd bly as jul met mekaar bly kommunikeer.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s