Van eerstes, laastes en alles tussenin

Ek besef toe, seker bietjie stadig vir my ouderdom, dat daar ‘n laaste vir elke eerste is. Die eerste pasgebore baba skreetjie en die laaste tipiese babatjie huil voor die peuter jare begin. Die eerste tandjie wat sny, die laaste tand wat wissel. Die eerste glimlag, (wat party as babakrampies beskou). Ek dink steeds dis ‘n glimlag.

Die eerste skooldag, die laaste laerskooldag. Die eerste tiener-oogrol.

Jy huppel, loop, kruip, kreun en sluip deur die babatyd, kleutertyd en laerskooltyd. Dan skielik, begin almal met die aanbreek van hoërskool, jou waarsku: Tyd gaan nou vining vlieg.

Maak nie saak hoeveel jy rem nie. Tyd staan regtig vir niemand stil nie. Al remme wat werk, is gelukkig die van jou kar. Jy weet, want jul is somtyds, eintlik meestal laat vir skool en moet dan so hard rem voor die skool, dat die stof uit die teer opwolk.

Jy wag nog vir die laaste tiener-oogrol.

En skielik tussendeur nog ‘n tydverbonde werklikheidsbesef: Wanneer jy in ‘n onbewaakte oomblik, met die son van die verkeerde kant af, jouself in die kar se truspieëltjie bekyk. Jy sien dit. Jou vel begin, wel… kreukel. Nie net om jou oë nie, maar om jou mondhoeke en daardie jaarringe om jou nek! Nooit weer sal jy dit waag nie. Wat die oog nie sien nie, kan die tyd nie wegneem nie.

Uiteindelik breek die eerste dag van jou kind se laaste jaar op skool aan. Dit hét vinnig gebeur.

Baie gou daarna, staan jy met ‘n knop in jou keel en bekyk jou kind in haar matriekafskeidrok. Omtrent agtien jaar van jul lewe saam onder een dak is amper verby. Sy is op pad grootmenswêreld toe.

Aan die een kant is dit ‘n skok. Maar, wanneer jul een of ander opregte tiener-ouer geskil het, dink jy: Dis tyd dat jou voëltjie vlieg. Julle is gereed daarvoor.

Net om die volgende oomblik, jou nie ‘n lewe sonder haar onder jou dak in te dink nie. Jy gaan alles mis. Haar lekker giggel, selfs die buie en interessante musieksmaak. Haar daar wees, haar gesiggie, haar bekende reuk, haar onderstebo kamer en die goedjies wat sy altyd bak en brou.

Die vraag is nie net: Wat gaan van haar word nie, maar wat gaan van jou word?

Ek glo ek gaan meer tyd hê om my eie dinge te doen. Maar, dit was lekker om haar rond te karwy, met haar te stry en saam met haar te lag. Die uit-die-bloute drukkies en die lang diep gesprekke oor sieldsdinge en kwessies van die lewe. Sy het my so baie geleer van leef, tegnologie, geduld en in die oomblik wees.  

Mens besef dis nie die eerstes of die laastes wat altyd die heel kosbaarste is nie. Dis die tyd tussenin. Die tyd wat die koers bepaal, die kosbare herinneringe bou en die volgende stap in die lewe inlei.

Dit maak nie saak tussen watter eerste en laaste jy tans loop nie. Die tyd tussenin is die waardevolle tyd! Dis bepalend vir die verloop van die volgende eerste.

2 thoughts on “Van eerstes, laastes en alles tussenin

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s