Min of meer net genade

“Jinne neef, as dit ‘n dubbel is, wat drink ons nog die heeltyd?” Die man kyk verontwaardig na sy glasie dubbel brandewyn wat net-net tot by die kwart glas merk kom. ‘n Dubbel brandewyn knertsie in hul terme, moet ten minste so driekwart glas vol maak. Die res is vir die coke. Coke is duur, jy weet.

Met grys stoppelbaarde bekyk albei neefs die indoening. Nie mooi seker of die kelner nou regtig die afmetings so korrek het nie.

As ‘n mens van die ruwwe wêreld af kom, weet jy wat min is. Min beteken dit het nie gereën die aflope jaar of tien nie. Min beteken jou geld was al lankal op. Die skaap moes voer kry. Die voer is te duur en die skaap vrek van hongerte in die veld langs die droë pannetjie wat eens darem ‘n druppel water kon pomp.

“…En seën my pa en seën my ma en my oom op sy plaas in Afrika…”

Jaar na jaar toer heerlik ingerigte 4×4’s verby uitgestrekte plase. Hulle stop en neem foto’s van rotsformasies en sandduine wat fluweelsag uitstrek teen ‘n blou wolkelose horison. Droë grasvlaktes woel in ‘n dor briesie.

Die kameras klik. Kontras in kleur en tekstuur gryp met verwondering aan.

Dis dorre plase.

Ek en my gesin word deur ons vriende, as redelik ‘onnormaal’ beskryf. Ons voeter omtrent elke Desember vakansie, uit vrye keuse, in een of ander dorre wêreld in. Ja, ons praat van so 50 grade Celsius, ensovoorts.

Dorre land is ‘n wonderbaarlike tipe natuurskoon. Soveel geheime word perfek versteek deur die kuise bedekking van sand, klip en algemene ruheid. Elke plant aangepas vir ongenaakbaarheid en elke dier van miskruier tot gemsbok weet wat oorlewing behels. In die dag se felheid kruip hul weg tot die son rooi skyn teen die horison en die aarde kan sug in genadige koelheid van vroeg aand.

Dan is dit partytjietyd vir elke woestynbewoner. Ongelooflike goggas maak haastige verskynings (en skrik stadsjapies lam). Voëltjies sing uit volle bors soos net ‘n woestynkind kan. Met ongekende vreugde skarrel hul om iewers ‘n druppel water, ‘n saadjie, ‘n grassie, of ‘n goggatjie in die hande te kry voor die son met gloedstrale weer sand en rots kom seën.

Daarna versteek die dorre wêreld weer sy wonderwerk geheimenisse onder wuifende gras of rimpel gewaaide sand. Hul is perfek aangepas vir hul omstandighede.

Somtyds as jy so ry en bewonder, dan wonder jy: Hoe oorleef enige boer hier? Net uit genade en ‘n ysere wil?

“…En seën my pa en seën my ma en my oom op sy plaas in Afrika…”

Dan kom die besef dat reeds honderde kilometers voor hierdie eeue oue dorre streke, dit nie meer net die Karoo, Kalahari, Richtersveld en Namib woestyn is wat smag na reën nie. Dis verder, wyer en breëer. Dier, plant en mens moet weer aanpas. Hierdie keer sommer in jou eie dorpstuin.

Wat noem mens dit? Droogte, of is dit dalk iets soos ‘n Ice Age? In hierdie geval, Desert Age?

Ons dink aan die boere wat op hul mooi droë plase elke dag die horison dophou en wie se geloof tot die uiterste beproef word. Vir hulle en indirek vir ons, wat die boer se produkte in ons huise benodig, moet ons bid, glo, hoop en weet dat daar mos ‘n Plan is. En genade. Ons is in die hande van ‘n God van liefde en genade.

“…En seën my my pa en seën my ma en my oom op sy plaas in Afrika…” (Woorde uit die lerieke van die liedjie Mannetjies Roux)

O en die twee dierbare neefs wat boer daar op hul ruwwe dorre grond, het toe wel die kelner gewys op sy paralaks fout, want hul weet mos wat min is.

13 thoughts on “Min of meer net genade

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s