Miers-HOOP

Ek voel nie dieselfde as Salomo oor die ywerigheid van die mier nie.

Verlede jaar, daar in ‘n afgeleë hoekie van ons tuin, kom ek af op ‘n hoop omgedolwe grond en die mooiste grond torinkies. ‘n Sprokiesboek koninkrykie.

Rysmierkoninkryk!

Verskrikking! Hul koninkryk neem myne stadigaan in.

Daar was oorlog. En toe was daar wraak. Dit blyk dat die miere baie goeie kommunikasiestelsels in plek het. Geheime stelsels waarvan mense nie weet nie.

Hul stuur hul kleiner formaat familie (die klein bruin mierjie) om ons grasperk weg te dra. So geheimsinnig dat ek dit eers agterkom ná die winter en die grasperk sulke brak kolle uitslaan.

Daarna vat hul ons huis – die hondekos as eerste teiken. Dit raak nou persoonlik!

Sekerlik uit weerwraak teen my onsuksesvolle teenaanvalle, klim ‘n hele familie miere in een van my lelies in. Toe ek die bedrywigheid ontdek, is hul besig om eiertjies in klein knyperhandjies tot bo-op die lelie blare te karwy. Dis ‘n vreeslike op en af gehollery teen die lelie stingels.

Hoe harder ek probeer om hul van die plant af te kry, hoe meer skarrel hulle desperaat op en af teen die stingels met die eiertjies in hul knyperhandjies. Hordes! Gedetermineerd en sonder ophou.

In my moedeloosheid oor die indringers wat geen respek vir tyd of ander se ruimte het nie, gaan sit ek sommer daar langs die plant met die krioelende fyn gediertetjies.

Mens kan nou nie staan en stry met ‘n wyse man soos Salomo nie, maar goeie griet!

”Gaan na die mier…” Spreuke 6

Hier is ek nou – by die mier. Die uitgebreide familie besigheid gaan onverpoost voort ten spyte van die reusagtigheid van my bedreiging as mens. Hul laat hul net nie onder kry nie. Ek is seker daar is ‘n vreeslike diktator van ‘n koningin mier wat hul vanuit diep onder die grond genadeloos voortdryf?

Ek het al mense gesien wat nes hierdie miere altyd net aangaan, ten spyte van negtiewe, hartseer, onseker en plesierlose omstandighede.

Dis asof ‘n oorlewingsmodus aanskakel en hul met ‘n onsigbare arm voordryf. En dit het niks met ‘n diktator koningin mier te doen nie!

Dis HOOP. Hoop dat môre beter sal wees, dat die oplossing iewers sal kom en die bedreiging iewers op een of ander manier oorwin sal word.

‘n Mens weet eers hoeveel hoop en krag daar in jou is en hoeveel krag in hoop is, wanneer jy bedreig word. Dit maak nie saak of dit nou met siekte of moeilike lewensomstandighede te doen het nie.

Die mier, wel deeglik frustrerend in ons daaglikse huishoudings, het toe wel baie lesse om ons te leer (en dis nie net om nie lui te wees nie). Dis ook om ten spyte van bedreiging net uit hou, te glo en te hoop.

Mag jy altyd HOOP hê, al lyk dinge hopeloos.

Mens kry miershope en dan kry mens ‘n mier-se-HOOP.

3 thoughts on “Miers-HOOP

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s