Die trappe van vergelyking van ouerskap

‘n Mens leer baie dinge in die lang ure se sit by ‘n danskompetisie waar jou kind deelneem.

Jy leer dat jou kind die beste en mooiste dans.

Jy leer dat ander mense se kinders net nie so oulik is nie.

Jy leer ook dat nie almal dieselfde as jy voel oor jou kind se pragtige performance nie.

JY leer die trappe van vergelyking van ouerskap.

  1. Jou kind sal altyd die beste dans volgens jou. Jy het mos dan gesien hoe sy oor die jare verbeter het, tegnieke aangeleer het en baie moeilike bewegings onder die knie gekry het.
  2. Ander mense se kinders dans ook darem goed, baie goed eintlik! Sonder afguns leer mens dat daar baie wonderlike talent in die wêreld is.
  3. Somtyds is daar enetjie wat dalk ‘n ander sport moes gekies het. Sy het sekerlik die musiek in haar lyf, maar… O wel, dis maar eintlik jou oningeligte mening.
  4. Want jy sien die absolute trots in haar ouers wanneer sy dans en dan…
  5. Leer jy weer die trappe van vergelyking van ouerskap.

Ouers is ‘n baie spesiale maaksel in die samelewing. Hulle kry trappe van vergelyking ingebou die oomblik wat daar ‘n bondeltjie vreugde in hul arms geplaas is.

Mens sien hulle rasend en jillend op en af masjeer langs die sportveld, die atletiekbaan of tennisbaan. Stil afwagtend by die redenaars, of die wetenskap olimpiade. Trots!

As toeskouer egter, weet jy nie altyd dat jy nie weet hoe boeta gehakkel het as graad eentjie nie. Hy praat nou vol sinne vlot agtermekaar en voor ‘n gehoor.

Jy het ook nie geweet dat Sannie ernstig siek was as baba nie. Dokters was sonder hoop. Nou kan sy hoogspring soos ‘n bergbok!

Jy het nooit deur die trappe van vergelyking van groei gegaan, daar waar die tweejarige Janneman maande na sy heupoperasie met spalke tusen sy bene moes lê nie. Vandag kan hy die 100m hardloop. Hy het laaste gekom, maar hy kon hardloop.

Jy sien ‘n internasionale popster met ‘n magiese stem wat eens op ‘n tyd in ‘n kerk koor gesing het. Jy wonder hoe voel haar ouers, want die heerlike musiek se lirieke draai om die wonder van dwelms en vrye deurmekaar seks en dinge waaraan enige ouer liewer nie wil dink nie. Is haar ouers se trappe van vergelyking van ouerskap trots met uitbundigheid of trots met ‘n MAAR agteraan?

Net jy as ouer sal weet hoe jou trots na trotser en trotste verander het. Net jy as ouer sal weet hoe jou kind se fantastiese vordering iewers ‘n sonde kon geword het.

Die trappe van vergekyking van ouerskap is iets waarop mens versigtig moet trap as dit by oordeel en veroordeling kom.

Na tien jaar by verskeie danskompetisies ken ek die trappe van vergelyking van ouerskap. Die groei, die trots, die teleurstelling. Ek sien soveel vreugde op ouers se gesigte met hul kind se eerste dans, eerste great sprong en eerste glimlag op die verhoog.

Op die ou einde is jy trots, trotser, trotste op dit wat net jy in jou hart weet jou kind eintlik ‘n wenner gemaak het. En dit het niks met eerste plekke te doen nie.

Dis die trappe van vergelyking van ouerskap. ‘n Onbeskryflike liefde!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s