Traantjie, traantjie….

Met haar jongste se matriekafskeid, vra ek my vriendin of sy ‘n traantjie gepik het. Sy lag. Haar dogter het haar laat verstaan dat as sy gaan huil, is sy nie welkom daar nie. Sy het toe maar een of ander generiese kalmeerpilletjie gesluk sodat sy traanloos deur die dag kon kom en haar kind ewige vernedering kon spaar.

Sy sê sy het die volgende dag in haar enigheid getreur en afskeid geneem van hierdie tydperk in haar lewe.

Soos dit enige ma betaam!

Ek vertel my man. My dogter, wat volgende jaar haar matriekafskeid gaan hê, spring net daar op haar tiener hakke. Sy sal my summier verban van enige matriekafskeid openbare betrekkinge, as ek dit sou waag om te tjank.

Manlief val ook ewe onsimpatiek in by die gesang en vra my vir wat ek dan nou sal wil grens by ons kind se matriekafskeid?

Asof dit nou die onlogieste ding op hierdie aarde is om te doen.

Ek verdedig verbaas: Dis wat ma’s doen! Dis mos die einde van ‘n era in ‘n ma se lewe. Matriekafskeid beteken jou pragtige bloedjie het dit tot hier gemaak onder jou beskermende vlerke en gaan binnekort uitgestuur word in die grootmens wêreld van verantwoordelikhede en monsters en dinge wat nog kon gewag het.

Verby is jou mamma-taxi era. Jy is nie meer nodig nie. Jy voel soos ‘n blommetjie wat verlep en vergete uitgegooi word.

Dis nie asof jy dit nie gesien kom het so deur die hoërskool jare nie. Sussa wou nie eens meer saam met jou by ‘n fliek gesien word nie. Dis heeltemal te uncool.

Haar vriendinne het intusen ook die nobel prys gewen vir al haar groot geheime. Jy is net goed genoeg om hier en daar ‘n draad op te tel.

Verder het klere-koop-uitstappies saam, beslis sy pieke en perke. Op die ou einde staan jy soos ‘n verlore brakkie voor die aantrekhokkie en wag. Sussa neem eers selfies van al die uitrustings om haar vriendinne se waardevolle opinies te kry. As dit nie die tick of approval van die vriende het nie, sal jy haar nie flou in daardie uitrusting uit die aantrekhokkie gesleep kry nie.

Dan eers kry jy jou opinie beurt. ‘n Kragmeting mag ontstaan as jy die vriendinne se opinies bevraagteken met aanmerkings soos: Is dit nie bietjie te kort, te kaal of te laag gesny nie?

Ja, jy weet dis ‘n nodige deel van haar groei tot onafhanklikheid.

Maar om sommer net so, nie meer die alfa en omega in jou kinders se lewe te wees nie? Dis ’n brose plek. ‘n Realiteitsbesef wat liefs sagkuns op mens moet neerdaal.

Aan die positiewe kant, is daar darem die trots wanneer jou kind selfstandig is, want jy weet jy was die karretjie wat hul tot daar gery het. ‘n Ander positief is dat jou tyd nou meer geword het. Jy kan begin met daai projekkie waaroor jy al soveel jare gedroom het.

Intussen sit jy heimlik rustig en wag dat die trotse produk van jou opvoeding self geseën word met kinders.

Hmmm…. Jy gaan ‘n oulike ouma wees.

Jy gaan skelm glimlag agter jou bril wanneer sussa ‘n traantjie pik met elke mylpaal in haar kinders se lewe. Ook as sy kla oor haar hoërkool dogter háár so stief behandel. O, die wraak van ‘n ouma… Of gaan dit meegevoel wees?

Die lekkerste is egter wanneer jou dogter uiteindelik regtig jou vriendin kan word. Mag mens die tyd gegun word om saam met haar daardie skelm traantjie weg te sluk, wanneer ook sy ‘n era as ma moet afsluit met haar bloedjie se matriekafskeid.

Of hul dit gaan toelaat of nie, skelm traantjies van trots, vreugde, nostalgie, afskeid en plein liefde sal ‘n ma altyd hê. Dis mos normaal.

Dis die binnewerke van ma-wees!

2 thoughts on “Traantjie, traantjie….

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s