Januarie het twee maande!

Hier sit ek en tel my senteblik uit vir kleingeld vir my huishulp se taxi. Dis Januarie en meeste van ons dors na betaaldag. Dit voel al asof daar ‘n ekstra week of wat bygekom het in Januarie.

Ten spyte van al die finansiële knyp en druk so vroeg in die jaar, is ‘n nuwe jaar is darem maar opwindend. Als voel mos so half nuut. Selfs die kruideniersrakke lyk vreemd na die vakansie.

So stap ek nou die dag met, nog nie al my vlieënde varkies op hok nie (verwys na my eerste blog in Augustus 2017), besig om ons voedselvoorrade aan te vul na die vakansie. Ek is so op soek na al my vlieënde varkies dat ek my amper na ‘n ander planeet skrik toe iemand skielik met my praat.

“Hi, maar jou man het darem baie gewig verloor. Is hy okay?” Vra ‘n vrou my vrolik daar tusen die kruideniersrakke. Behalwe dat ek erg hard moet konsentreer om nie by die kassier ‘n: “Jammer mevrou, maar jou kaart is ge-decline.” te kry nie, moet ek nou eers gou my vlieënde varkies weer op hok stuur, sodat ek die vraag kan antwoord.

“Nee”, sê ek, “Hy makeer niks. Is inteeldeel regtig perdfris en gesond.”

“Wat is sy geheim?” Fluister sy naby aan my oor asof die FBI dalk inluister. Almal wil sy geheim weet. Sy antwoord is altyd heel eenvoudig en verskoon asseblief my taal, maar dis ‘n direkte aanhaling: “Hardegatgeit!”  Bedoelende uithouvermoë in oortreffende trap. Ja, my man het verlede jaar Januarie besluit om gewig te verloor en dis een nuwejaarsvoorneme wat baie goed gehou is.

Ten spyte van my man se uitstekende voorbeeld is nuwejaarvoornemens nie regtig iets waarop ek my tyd verwyl nie. Vir my voel ‘n nuwe jaar op sigself dat mens nuut begin. Dis asof daar ‘n varsheid en ‘n klankie hoop aan ‘n nuwe jaar klou.

Hierdie jaar het ek wel ‘n paar besluite geneem, wat sekerlik grens aan nuwejaarsvoornems en hopelik verby eindelose Januarie sal vorder.

Een van hulle is om my minder op te werk oor al die klein moeitetjies wat ek doen as ma en al die ondankbaarhede wat ek daaruit kry. Nee kyk, kinders het nou maar eenmaal geen insig in jou liefde en al die derduisende kleinighede wat mens aanvang, opoffer en gee nie.

Regtig nie ‘n benul nie!

Baie keer voel mens mos maar asof jy hul persoonlike slaaf is, reikafstand naby en gereed om te reageer as hul ‘n beweging maak.

Dis net, dat op ‘n sekere ouderdom wil dit regtig blyk dat hul self sekere dinge kan doen en dan tref dit jou yskoud in die gesig dat dit JY is wat al jare lank die gedrag van ‘koning of koningin op die troontjie’ baie slaafs aan hul geleer het.

Meeste se vingers sal nie afbreek as hul self ‘n takie of twee aanpak nie. MAAR nou sit jy klaar met die gebakte pere van jou eie gedrag en om dit om te swaai, verg jou man se hardkoppigheid en deursettingsvermoë.

Deur die hele vakansie vervies jy jou elke maal as jy verby die TV-kamer stap dat hul hul rugstringe krom lê op die bank. Daarmee saam staan ‘n hele versameling glase, bekers, pierings en allerhande derglikhede rondom hulle en die miere hou partytjie daarop, daarin en daaroor.

So vermaan jy met elke verbyloop dat die versameling kombuisitems asseblief aangedra moet word kombuis toe waar dit hoort. Jy word of geïgnoreer of jy kry ‘n oogrol wat na ‘n knik lyk, maar met die twintigste verbyloop, met wasgoed of iets wat wel te doen gaan hê met die hartslief van jou lewe, besef jy dat jy net sowel die gesprek met die TV kon gevoer het.

Dit behoot nie juis verbasend te wees dat MOEDER teen daardie tyd nie meer ‘n rooi lap nodig het om rooi te sien nie. Op een of ander wyse verkies ons bloedjiies om die gevaartekens mis te lees en dit lei dan tot verdere reperkussies wat mens liewer nie in die publiek herhaal nie. Maar jul almal weet waarvan ek praat! Mens praat net nie uit daaroor nie, want jy wil jou gedrag so gou as moontlik vergeet. Daar klou altyd skuldgevoelens aan.

Eers DAN kry jy ‘n geluid uit hulle uit. ‘n SUG! (Die bure agter die bure kon daardie sug hoor.) ‘n Skuifel geluid, nog ‘n sug; bekers, glase en pierings wat teen mekaar klingel en dan verskyn hul vieserig in die kombuis.

“Ewe, daar’s miere in die goed! Ek gril my dood! Ewe, ewe, ewe!” Hul skud hul hande asof die miere self sal afspring. Maar een kyk in ma se rigting en die die oë word groot en die vingers word gedwee in die wasbak afgespoel. Net toe hul wil omdraai terug TV toe, kry hul ‘n: ”Uh, uh, uh,” van jou.

“In die skottelgoedwasser!” Jou wysvinger beduie duidelik waarheen die mieroorlaaide items moet gaan.

Met nog ‘n sug, maar sagter as die vorige een, word dit gedwee gepak en ‘n mompel van: “Ek weet nie hoe om dit te pak nie,” maak geen indruk nie.

Oppiep! Nie meer nie!!

Geen opgepiepery verder van my af nie! Ek gaan van my man se hardkoppigheid leen, want hy het mos klaar gewig verloor en gebruik op my voorneme. Dis nie net voordelig vir die voortbestaan van ons bloedjies as normale volwassenes nie, maar vir die oorlewing van die Moeder van die huis.

Ja, ek weet ware dankbaarheid van kinders kom eers as hul self agter al die bekers, glase en pierings voor die rusbank aanhardloop. Dan vra mens vir die eerste keer: “Wat het ek aan my ma gedoen?” In my geval, toe die GROOT besef my tref, toe kon ek nie meer my ma bel en haar vertel hoe wonderlik sy eintlik was nie en dat ek jammer is en, en, en…

Vasbeslote om nie dieselfde paadjie as my liefdevolle ma te loop nie, het ek nou ‘n stopteken ingewikkel voor sulke laakbare gedrag (wat ek mos SELF vir my kind geleer het).

Maar net toe ek dink ek begin nou goed beheer hieroor kry, sommer al vroeg in die nuwe jaar toe…

“Mamma!”

“Ja?”

“Kan mamma asseblief vir my my skoene bring wat ek voor die tv vergeet het? Ek’s in my kamer.”

“Ek’s oppad!” Sê ek sonder om my voorneme te onthou!

Sien, ons geniet dit eintlik om ons bloedjies te dien, dis mos in ‘n ma se alles om ons liefde op hul uit te stort. Miskien is moederskap ‘n ongeneeslike siekte en Januarie ‘n goeie tyd om dit te besef.

Ons sal seker altyd die dienaars bly, want ons liefde vir ons kinders is meer werd as al die sterre in die hemel en EENDAG sal ons kinders dankbaar wees vir al die liefde wat hul ontvang het.

Maar, ons moet seker ook leer verstaan dat hul op die ou einde mense uit eie reg is en iewers gaan aansluit by die res van die volwassenes en ja, hul moet seker hul staan kan staan in die samelewing, nes ek en jy. Ons kan nie toelaat om ruggraat-papperts groot te maak nie!

“Nee aarde, jy het self jou skoene daar uitgetrek, gaan haal hul self.”

“Maar mamma!”

Stilte.

“Ma? Mamma?!”

Nog stilte…

“Okay, ek sal dit self gaan haal.”

Daar’s hoop. Ek glo!

Ek is vasbelote om my voorneme langer as die twee maande lange Januarie vol te hou en gelukkig kos dit darem nie ‘n sent nie, so Januarie se beperkete begroting is veilig.

O en dis nou nie dat ek die maande om wens nie, maar ek dink iemand, weet nie wie nie, moet Februarie en Januarie asseblief omruil…..

 

Ek sien uit na ‘n opwinde jaar en hoop dat hierdie jaar vreugde en seën sal inhou en dat ons sal leer ons kinders kan self hul bekers, glase en pierings aandra. Mag 2018 vir jou ‘n jaar vol wonderlike leerervaringe wees!

One thought on “Januarie het twee maande!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s