Elke dag van die jaar en meer

Driehonderd-vyf-en-sestig dae en nog ‘n kwart dag.

‘n Hele omwenteling! Verstom val jy wraggies toe nêrens af nie. Jy het baie keer gedink jy gaan aan die einde afval, maar om een of ander rede het swaartekrag en die atmosfeer jou vasgehou.

Met skrefies oë wat droog is van die doer kyk, sien jy die valerige drywende buitelyne van ‘n sandduin.

Nog een!? Hoeveel sandduine gaan jy nog moet oor voor dit weer tyd is vir die volgende driehonderd-vyf-en-sestig dae en nog ‘n kwart dag?

In die winkels blêr die nuutse kers album van Michael Bublé.

En jy weet die sandduin wat jy daar in die doerte sien, die laaste een vir die jaar moet wees, want mens-kersfees blink en klink oral op. Dis nie meer lank nie, dan is dit tyd vir VAKANSIE!

Jy het sowaar nêrens afgeval nie!

Verlig, verstom, vryheid.

Verlig, want jy kan nog ‘n winkeltrollie stoot en mooi goed kyk, inpak, bewonder, uithaal en dalk weer inpak.

Verstom, want jy was seker die jaar was die ergste ooit en hier staan jy nou agter ‘n winkeltrollie met ‘n salsa skud in jou heupe op ‘n Michael Bublé liedjie en sing onwetend “Jingle Bells”. Dis wat mens oorlewing noem.

Vryheid? Seerowers wat buit op die sandduine van jou lewe het stofstorm sterk twyfel oor baie dinge in jou kom opskop. Hul het jou laat glo dat ware geluk net aan ‘n klein ander groepie, waarvan jy nie deel is nie, kan behoort. Hul het jou Vryheid kom steel.

Jy loop sleepvoet tussen die winkelrakke deur en dink aan al die goed wat nog moet klaar, wat nog betaal moet word en waarvoor moed bymekaar geskraap moet word. Vrese gryp met dun vingers om jou keel en diewe probeer jou geloof uitgebak en droog op die sand los.

Maar die seerowers weet nie! Jou vryheid is dat jy elke sandduin deur stofstorms en son kon aanpak met ‘n genadige sekerheid. Op ‘n wonderbaarlike en baie pesoonlike manier is jy gedra, getroos, heel gemaak en gelei.

Daar is lesse geleer, sommer baie! Daar was skokkende lesse, lesse wat jou moedeloos laat smeek het in gebed, maar dan was daar die lesse van dankbaarheid. Trane het strepies van geluk en aanvaarding op jou wange gelos.

Die aarde het sy draai gemaak. Baie dinge het omgeval, party het net skeef gaan staan en ander het weer opgestaan.

Jy is nou al amper ‘n hele jaar slimmer en wyser en jy weet dat die seerowers oorwinbaar is. Jy het met jou eie oë gesien dat geen seerower jou kan plattrek nie.

‘n Kersvader?!

‘n Kervader lui ‘n groot goue klok. Jy staan nog steeds voor die kersversierings. Jy weet dat na die kerseisoen verdwyn hierdie cute rooipak-grysbaard omie om eers weer volgende jaar met klokkies en rooi wangetjies ‘Ho-ho-ho’ uit die diepste van sy ronde middellyfie te bulder.

In die terug kyk oor al jou verby sandduine het jy nêrens ‘n omie in ‘n rooi pakkie of jingle bells gesien nie. Daar was net ‘n onfeilbare Gees in jou en jy was nie alleen nie.

Life is life!

Met ‘n gholfbal grootte knop in jou keel sluk jy hard, want jy weet daar ‘n liefling in jou lewe wat nie weer hierdie kersfees saam sal kan lag nie. Daar is dalk ‘n hol leegte en wanhoop iewers in jou omdat dinge, lewensgroot dinge, in jou lewe skeef geloop het. ”Life is life” weerklink nou in jou eie ore.

Dalk, as dit dan so moet wees, is daar weer driehonderd-vyf-en-sestig dae en ‘n kwart dag van hoop en glo en weet dat elke sandduin en elke seerower maar moet passop, want hier kom jy met die volle mag van die Heilige Gees en jy gaan nie lê nie!

Somer ‘is coming to town’!

“Santa Claus is coming to town” wikkel jou om die volgende rak en jy staar jou vas in eiland-mooi helderkleurige swemhanddoeke!

Dis somer! Dis mos somer!!

Die kontras tussen die kersversierings en die somervakansie wat voorlê laat jou oë oorkruis voel.

Hoop tyd!

Hierdie kerfees gaan nie wit wees nie, dit gaan somer wees en mooi en vol hoop en dankbaarheid.

Kersfees bly wat dit veronderstel is om te wees. Die bloedlyn van Christus het aanhou baklei teen die duisternis om hoop, vreugde en genade vir ons te gee elke dag van elk van die driehonderd-vyf-en-sestig dae en nog ‘n kwart dag.

Kersfees is hoop-fees, liefde-fees, dankie-fees en glo-fees.

Ek hoop met my hele hart dat jy ‘n pragtige en geseënde Kerfees gaan hê. Dat die jaar wat verby is jou nie net seergemaak het nie, maar ook slimmer, wyser, sterker, vol moed en geloof gelaat het.

Mag jy veilig reis as jy gaan reis en mag jy sommer heerlik ontspan en weer die liefde, genade en vrede van ons liefdevolle Vader vind en ervaar.

######

Dié is dan my laaste blog vir die jaar, maar as als goed verloop ek is weer terug volgende jaar en dit gaan ‘n GREAT jaar wees, maak nie saak wat nie!

Mag jy geseënd wees!

Liefde groete,

Pajamasmetsokkies!!

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s