Die kaalbas avontuur

Die gras stokkies steek my kaal wit boudwange. My keel brand, my lippe plak droog aanmekaar. Ek is moeg, dors, honger, duiselig en naar. Hier is nie eens ‘n koelteboom nie. My metgesel is kwaad. Dis die hoeveelste keer dat ek vra om net bietjie te rus!

Erg vies kyk ek na die kamaraman. Hy het skoene en gepaste klere aan. Hy is in ‘n droom-beter toestand as waarin ek my bevind.

Vandag is maar dag twee. Die selfbewustheid oor my naaktheid is nou grotendeels iets wat dowwerig en oorwonne ver agter in my geheue gaan lê het. Dis net die duiseligheid, honger en naarheid wat rou en gereeld in my stamp. Elke aar in my kop klop teen my skedel.

‘n Rooi mier skarrel verby my naakte boud. Kos! Hoe proe ‘n rooi mier?

Die son wring elke druppel vloeistof uit my uit. Bome?  Ja daar is sowaar groenigheid daar ver teen die rantjie. Hoe ver is dit soontoe? Dalk sal daar drinkbare water wees. ‘n Bietjie nuwe moed lig my op. Soos ‘n dier wat water ruik beweeg ek sonder plan vorentoe, net in die rigting van hoop.

Ongewoon, opwindend en uitdagend!

Ander sien hierdie prentjie as ‘n avontuur. Vir my is hierdie die bestandele waarvan nagmerries aanmekaar gesit word. Kaal, dors honger en bang! Wikipedia omskryf avontuur as ‘n ongewone, opwindende en uitdagende ervaring. Moet sê my idee van avontuur verskil beslis van hierdie mense.

Naked and Afraid is ‘n realiteitsprogram waarin mense poedel-noedel vir een-en-twintig dae in die wildernis rondloop. Dus sonder kos, klere en water. ‘n Kamera span agtervolg hul bewegings en blur hul kaal boude en what have you’s uit, sodat die program nie méér bekendheid verwerf as Playboy nie. Dis ‘n oorlewingsavontuur program, nie ‘n 16 of 18+ program nie. (Ek verstaan nie altyd wat die snypunt tussen ‘n 16 en 18 gradering is vir flieks en TV programme nie – maar dit nou eers daar gelaat.)

Persoonlik probeer ek myself inleef in die hele reeks op TV, omdat ek nou nie van daardie tipe avontuurlustiges is nie. Jy weet, ek kan nie eens ‘n paar uur sonder lekker eet klaar kom nie en daar moet ek dalk dae sonder kos klaar kom, ontneem van al die basiese waaraan ek elke dag gewoond is. Ek glo nie aan kits diëte nie en volgens my is een-en-twintig dae in die woeste wildernis ‘n vorm van ‘n kits dieet.

En kaal? O toggie, nee! Netnou sien my metgesel, die kamera span en die hele kyker wêreld my selluliet en rekmerke! Hoe sit jy in elkgeval kaalbas op stokkerige gras of sand met goggas wat rondhardloop en kan byt? Hu-uh! Daar’s ‘n rede hoekom ek vandag leef en nie in die jare van die oermense nie.

Ek is regtig diep dankbaar dat ons oer voorouers al hierdie primitiewe ervaringe moes deurstaan het sodat ons vandag geklee en met kospotte, stowe en winkels kan spog!

Tog is daar diep, baie ver in die doerste onsigbaarheid, ‘n plekkie binne in my wat wonder of ek so ‘n uitstappie in die natuur sal oorleef. Jy weet, ‘n bietjie onafgeronde en uitdagende avontuur. Dis nie dieselfde tipe avontuur as om te gaan bungee jump nie.

Dis die tipe avontuur wat eers jou liggaam en dan jou siel uitdaag. Jou liggaam baklei hard teen dit wat jy aan hom doen en dan begin jou brein jou vertel jy is honger en moeg en tam en jy voel siek. Jy kan besluit om op te hou met hierdie teregstelling van liggaam en gees. Al wat moet gebeur is om die Producer van die program te sê jy gee op.

Hul draai jou toe in ‘n handdoek, laai jou in ‘n bakkie en ‘n paar dae later vertel jy die kamera span verfris en dankbaar hoe jy oor die hele opgee-ding voel. Almal dink jy is ‘n wenner, want jy het aan die langtermyn skade aan jou liggaam gedink.

Maar wat as daar nie ‘n kamera span en producer is om jou uit hierdie penarie te red nie. Wat dan?

Hoe lank sal mens dan uithou en oorleef? Die oermense en hul nageslagte het ons ‘n ryklike bron van oorlewing laat erf. Elke nageslag ‘n bietjie meer slimmer as die vorige een. Partykeer ook maar ‘n bietjie dommer, want kyk wat gebeur as mens nou weer poedelnakend terug gesit word in die natuur! Ons sal weer van voor af moet leer oorleef in die wildernis!

Avontuurlustigheid vir my, het niks te doen met fisieke krag en oorlewing nie. Ek is nie die reksprong-tipe nie. Daar is geen brandende opgewondenheid in my as ek aan sulke avonture dink nie – eerder vrees en hoe op aarde kan mense so iets wil doen!?

Maar ‘n uitdaging en avontuur bly net wat dit is. Om die vreemde te betree en nie seker te wees wat die uiteinde gaan wees nie.

Ons almal is dus met een of ander oorlewingsavontuur besig, net in verskillende vorme. Party van ons baklei verslawing, ander ‘n siekte, ander weer geestelike pyn. Almal voel somtyds of ons kaalboude op growwe gras sit. Moeg en onseker of die oplossing oor die volgende rantjie gaan wees.

Kos en water is verskeie goed. Dit kan gesondheid wees, verlossing, ‘n kindjie waarvoor jy al jare bid, ‘n werksaanbod, ‘n lewensmaat, noodsaaklike skeiding van iets of iemand. Daar is soveel en elke een is uniek.

Die enigste adrenalien junkies is nie net dié wat wil bungee jump, die berg Everest klim of swem in yswater nie.

Ons met ons unieke probleme en situasies is maar eintlik almal adrenalien junkies. Op soek na die ding wat jou skop gaan gee en jou maag gaan laat ril van opwinding. Jou eie persoonlike avontuur.

Die eintlike producer in die hemel en Sy gees is in jou. Jy hoef maar net jou hand uit te steek en te weet Hy sal jou red op Sy manier en Sy tyd. Hy wat ‘n persoonlike plan het vir jou.

Hoop!

Daar was toe water oorkant die rantjie. Dit was nie ‘n helder waterstroom of ‘n stortende waterval nie. Die water het geruik na alg en ronde padda ogies het kom loer waaroor die lawaai gaan. Voëltjies het afgeduik en goggatjies van die wateroppervlak af gepik. Dit was die mooiste water wat ek nog gesien het. Nog ‘n entjie se loop het ons gebring by klippe waaroor die water vrolik en blink spoel. Helder water! My dag was gemaak. Hier sal ons ‘n plan kan maak om drinkwater te kry. My liggaam was moeg, ek was kaal, maar ek het moed gehad!

Om te waag.

Die wat die vreemde ingewaag het kan spog omdat hul teruggekom het met ‘n rykdom ervaring, nuut omdat hul gewaag het en elke litteteken oppad, ‘n trofee wat hul met trots kan dra.

Wel, wat kan mens sê? Elkeen doen sy of haar eie tipe bungee jumping en dis goed so!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s