Tel woorde vir woorde wat tel.

“Ja, want jy weet nie als nie. Ek weet meer as jy!”

Bekende woorde? Wie het dit gesê? Jy of die tiener wat jou uitdagend, reguit en onverskrokke aanstaar. Irritasie dik in haar stem!

Die are in jou kop swel en jou mond spring oop soos ‘n spring wat losgekom het. Die raas borrel uit jou uit asof ‘n pyp met woorde in jou gebars het. Eers verontwaardig, toe vervies jy jou en toe waag sy dit om met die unieke moed van ‘n tiener die gevaartekens te ignoreer. Sy kom met ‘n gevaarliker aanmerking as vroeër en saam met jou geswelde kopare kom daar skrik by.

Wat as sy reeds op die verkeerde pad is? Wat as sy gaan seer kry? Wat as jy al die tekens en gevare in haar gedrag gemis het? Jy pluk haar figuurlik aan haar arm om te verseker dat sy terug kom na die veiligheid van jou huis toe. Maar sy beur harder as wat jy trek. Al wat jy wil doen is om haar te beskerm, maar hoe meer jy probeer beskerm, hoe meer werk sy teen jou. Tot jy laat los.  Jy val plat geskop en gedisoriënteerd. Wat nou?

Opdrag gefaal?

Te veel woorde; te min trefkrag! Jy wou net die waarheid in haar inpers sodat sy sal weet wat die beste is vir haar, maar die woorde skiet terug soos ‘n tennisbal teen ‘n muur.

Jy onthou hoe ondoeltreffend dit was as jou ma jou doof gepraat het oor gevare en moets en moenies en gevolge en.… Sy het jou aandag al vyf minute terug verloor. Al waaraan jy kon dink was hoe om jou teenaanval te loods. Hoe om net vining genoeg uit hierdie betekenislose woorde-reën te onsnap.  ‘Ek MOET net Vrydag na daai partytjie toe gaan, dit gaan flippen uncool wees as ek die enigste een is wat nie kan gaan nie, want my ma is….oeeeeeee!!…… nie seker of dit veilig gaan wees nie. Ek kan na myself kyk en sy’s uncool, flippen uncool! Hoekom sal dit dan nou nie veilig wees nie? Ek weet meer as sy!!!!’ Jy sien jouself heldhaftig en seker voor haar staan en jy weet….

Hoe anders lyk die wêreld nie as dit beskou word vanaf die ouerskap-berg af nie? Jy weet jy het gesê jy sal nooit eendag so met jou kinders maak nie! Famous last words! Hier skrik jy vandag vir dieselfde goed as waaroor hulle geskrik het.

Die invloede in jou kind se lewe is te veel om op een bladsy in te pas.

Tieners vertel jou hoe jou selfoon werk en wat die nuutste dwelm op die mark is. JY betaal self vir die internet wat hul voer. Dwelms is meer dodelik en meer beskikbaar, drankies word ge-spike by ‘n onskuldige kuier en totale identiteitskrisisse is die nuwe normaal. Hulle word geleer dat wat verkeerd was is reg en wat reg was is verkeerd. Hul is kennisvaardig oor die lewe, maar nog nie vaardig in die kennis van die lewe nie.

Wat?!

Die blote gedagte aan al die gevare laat jou kop draai en jy weet jy het nie ‘n dwelm nodig om so te voel nie. Hoe moet jy jou woorde tel? Dit terwyl die serp van skrik besig is om jou te verwurg en woorde skok-vinnig oor jou lippe stoot. Woorde wat haar kan mis-storm as sy kwaad is.

Die hoofopskrif is nie: “Nuwe dwelm verongeluk duisende se lewens!”, nie.

Die opskrif is steeds en was nog altyd: “Hoe pantser ek my kind?” Sonder om haar moeg te praat!

Dit is so, jy kan nie oral saam gaan nie. Jy kan haar nie voorberei op elke liewe scenario nie en waaraan sy alles blootgestel word tussen vriende, by die skool, by die sokkie, die fliek, die kuier en die mall nie.

Stuur dan maar Iemand saam met haar. Iemand wat onfeilbaar altyd by haar is, by wie sy altyd veilig is al is die omstandighede hoe swart en gevaarlik. Dis hoekom jou knieë blou en vol eelte is en jou hande sweterig aanmekaar klou, want jy bid aanmekaar en weet dat ons Vader haar nooit sal los nie.

Nou-ja, dan moet mens maar seker net leer om met meer kalmte te skrik as jou tiener jou kom verras met nuwe woord-pomper-gedrag. Dalk as mens stadiger skrik sal die woorde wat jy gebruik baie wyser en betekenisvol wees. Dit kos baie oefening vir my!

Mag ons die wysheid kry om ons woorde tel vir woorde wat tel!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s