Gratis verblyf en kos

Ek staan boude in die lug en blaas baie onvroulik! Vir die soveelste keer spoel ek die lap af en met dié kry ek sommer my weeklikse stap en squat oefening in; van die loop op en af tussen die wasbak en mikrogolfoond.

Hierdie oefen-loop was nie juis beplan nie. My mikrogolfoond was in ‘n ontploffing betrokke gewees en, ja! Dit het mens nou as jy krom kook vingers het. Dis beslis nie ingebore nie. My ma kon lekker kook, my ouma ook, maar ek het blykbaar ander talente geërf. Nie een van dit was om hemels te kan kook nie!

Ek wou net ‘n eier kook, maar my tyd-hou was effens uit gewees. Ek is nou nie van daardie spier-bouer-krag-reuse wat eiers sommer so rou afsluk nie. As ‘n eier wil hê ek moet dit eet, moet daar nie loperige eierwit wees nie. Hiérdie eier was vir my bietjie aan die grillerige kant en ek kom dit eers agter na die eiertjie kwartpad afgedop was. Die oudjie kon nie terug in die kookwater nie. Teen my beste beterwete in, besluit ek om dit net ‘n baie vinnige draai in die mikrogolf gee. Net so paar sekondes.

Dit was nie een van my helderste ’pieng!’ oomblikke gewees nie!

Een plof-klap!

Een plof-klap geluid bring my in my oefen tekkies tot stilstand.

Ek het geweet wat op my wag agter die mikrogolfoond deur, maar het skaamteloos gehoop! Die eiergeel het soos ‘n rubber balletjie langs die eierdop gelê. Nogal besonder rond en heel, maar die eierwit was oral en elders versprei. Daar was nie ‘n deel van die mikrogolf wat mis gespat was nie.

So gebeur dit toe dat ek boude in die lug voor die oondjie staan soos iemand wat die Japanese groet oefen. Die eier ontploffing moes ontruim word uit die oondjie!

My arme familie

My arme familie het al ‘n paar keer deurgeloop onder my kook pogings. Baie jare gelede toe ons nog baie pas getroud was, het my man moedig aan groen hoender geëet. Nee, die hoender was regtig nie af gewees nie. Ek het in pas getroude-vernuftigheid besluit om sommer ‘n hele blik groenboontjies met water en al in die pot met hoender te gooi. Die hoender het so vaal-groen uitgekom dat dit wys was om nie met jou oë te eet nie.

My kos skandes en kaskenades het ook nie hier geëindig nie!

Die trane het geloop toe ek ‘n witsous gemaak het en my man onskuldig laat hoor het dit lyk soos melkkos – vol klonte. My arme jeugdige selfbeeld was gesplit gewees en manlief moes hard troos en verduidelik.

Op een mooi Sondag wou ek my pa bederf met soetwortels. Hy en my man het amper hul tande verloor, want ‘n taaier toffie-tameletjie sou mens ver moes gaan soek. Kan nie glo Wilson’s Toffees het my nie gekontak vir die resep nie.

So het my kos avonture steeds voortgeduur!

Ek het al gewag vir aartapels om ryp te word. Hul was toe alreeds groen gewees en ek het glad nie besef die oudjies raak eintlik groener en meer oneetbaar by die dag nie. Nodeloos om te sê, die skande was ‘n familie- en vriend grappie wat my al talle kere kalkoengesig gelaat het!

Deesdae maak ek steeds hier en daar ‘n kleine ou foutjie, maar kon darem al ‘n paar vaardighede in die kombuis baas raak. Dis nou nie asof ek ooit ‘n Masterchef kandidaat sal wees nie. Ek sou beslis die armste sjef in die geskiedenis van die kulinêre wêreld gewees het.

Kook! Elke dag?!

Kook is maar net nie my gunsteling tydverdryf nie!

Dis vir my so half vermoeiend om elke dag aan goeie, gesonde en lekker etes te dink vir my familie. Ons gaan nie groot op wegneemetes nie, so mwa, moet uithaal en kook. Die probleem is dat my idees reeds teen Dinsdag al op is en teen Vrydag gee ek heeltemal moed op.

SOMTYDS, as deel van een of ander wonderwerk, tref ‘n ‘oe-la-la’ oomblik my en dan bak en brou ek dat die meel so trek. Dit gebeur egter net soms.

Vele kere, sou ek wel weet wat ek wil kook, het ek nie altyd al die bestandele beskikbaar nie. Dan moet ek improviseer of ry en gaan koop of iets anders maak. Het ander ma’s werklik altyd ‘n wonderlike lys van bestandele beskikbaar tuis? Jy weet, goed soos klappermelk, saffraan en bok choy! Hoe het hulle geweet hul gaan dit nodig kry? Ek besluit sommer ‘n minuut voor kosmaaktyd wat ek gaan kook.

Is ek waarlik die enigste ma wat my in hierdie kos-penarie bevind? Dit klink altyd asof al die ander ma’s die heerlikste en interessantste kos kook en hier sit kleine ou ekketjie en wens iemand anders kon die kos kook. Wens daar was werklik goed soos genies, want dan kon ek vir my ‘n sjef reël op my af dae of -weke!

Vrydae staak ek!

Vrydae staak ek! Tot my familie se frustrasie, want dan moet hulle dink wat ons gaan koop, braai, maak, of wat ook al. Dit het al tot talle ondronsies, onderhandelinge en ooreenkomste gelei. Elke Vrydag ‘n nuwe een!

‘n Kok sou natuurlik uitstekend in my huishouding gewerk het. Ek glo egter dat enige moeite-werd kok my sou uitgelag het vir my werksvoorwaardes: “Hoe klink gratis verblyf en gratis kos wat jy self voorberei vir jou?”

My kook-penarie is steeds nie opgelos nie!

#####

Ai sjoe, dis al laat, ek moet gou dink watse kos op die tafel gaan wees vannaand. Gister was hoender, eersgister was hoender, vannaand??? Dis gelukkig amper Vrydag en dan staak ek mos!

Net vir ingeval: Stel een of ander baaskok dalk belang in gratis verblyf en kos? Jy moet net met liefde kook? Dit is my dierbare familie vir wie jy kook, jy weet!

Of nee, los maar liewers. Ek sal dit sommer maar self doen. Hulle is MY dierbare familie en ek wil vir hul sorg! Behalwe Vrydae…..

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s