‘n Klipgeskiedenis

My klipgeskiedenis begin by my pa. As jou pa bonsai boompies kweek kan jy seker wees jy as kind sal op baie reise saam met hom gaan. Jy bevind jou as’t ware op Gulliver se reise. Soos vriend Gulliver kyk jy af op miniatuur Lilliput boompies en hul lyk soos opreg uitgegroeide bome. Bome wat langs kranse groei en deur die wind en weer gebuig en gedruk is tot hul karaktervolle houding.

In ons reise het ons fyn mos gaan soek langs langs kabbellende, klotsende helder waterstroomies en as gras onder die Lilliput boompes geplant.  Ek het my altyd verbeel dat piepklein mensies op hierdie gras speel en hardloop en rol.

My pa het ons op reise geneem na die wilde woeste wêreld van die ongerepte natuur. Die veld was ‘n bron van beide inspirasie en baba boompies met potensiaal. My pa het nie sommer ‘n klaar bonsai boompie gaan koop nie. Nee, hy het hul self gaan soek en gebuig en gedraai tot hul soos reuse ou bome met baie siel en karakter gelyk het.

Ons sou kilometers ver ry oor berge, sinkplaat grondpaaie en deur waterstrome agter pottebakkerspotte aan vir bonsai boompies.

So het ons baie en interessante bonsai-reise met my pa meegemaak.

Op een van ons reise agter bonsai benodigdhede aan, land ons op ‘n plaas. Die boer boer nie net met mielies, beeste en skape nie, maar het ook ‘n klein diamantmyn. Gruis, dis waarna my pa op soek was.  Fyn gruis om onder sy Lilliput boompies te strooi sodat dit soos regtige uitgegroeide gruis klippies sal lyk. Die boer kon ons daarmee help uit sy diamantmyn se gesifde fyn gruisklip.

Terug tuis word die gruis onder die boompies gestrooi. Dis toe dat my pa homself skrik dat hy soos ‘n vars skelm lyk wat uitgevang is. Tussen die gruis klippies was een klippetjie, valerig, maar met ‘n baie spesiale skynsel. Selfs ‘n leek sou kon uitwerk dis ‘n diamant.

Al wat my pa uitasem kon kwyt raak, was dat dit onwettig is om sonder ‘n permit met ongeslypte diamante te sit.

Die spesiale klippie het dit reg verby geoefende oë gemaak tot in my pa se paar bewende hande. Dit sou beslis nie die Britse koningshuis se kroonjuwele gehaal het nie. Om die waarheid te sê, ‘n paar rykerige tannies sou hul neuse opgetrek het vir die diamantjie.

Ek het op en af gesping soos ‘n mieliepit in ’n mikrogolfoond en my pa het bly skrik. Hy gaan nie tronk toe gaan vir onwettige besit nie! Ek kon nie bepaal of hy voel hy het hom vasgeloop in ‘n gevreesde Russiese mafia of ‘n geheime inteligensie organiesasie nie, maar hy het oral probeer skuiling vind vir die misdadige klip.

Ons moes opsluit die volgende naweek terug na die boer toe om die diamant in die regte hande met die nodige permitte af te lewer.

So het my klipgeskiedenis begin.

‘n Valerige klippie kan ‘n diamant wees!

Die volgende keer as ek my vervies vir die klomp klippe in my roosbedding, moet ek twee keer dink of die grond die klip werd is….! Ek wil nou nie my naam met ‘n klip slaan nie, maar blykbaar moet jy nooit ‘n klip te laag skat nie!

Partykeer moet ‘n klip net geslyp word om sy ware skoonheid na vore te laat kom. Dit het my laat dink dat ek sou bang wees om geslyp te word. Dit moet definitief baie seer wees.

Dit sou baie hartseer wees as elke diamant weier om gevorm te word, want die druk is te veel en die slyp proses te seer. Ons sou nooit diamante se blinkende prag kon geniet nie!

Die geheim is seker net om lank genoeg stil te staan om geslyp te kan word. Al is dit seer, kan dit ook baie opwindend wees! Wie van ons weet dit nie?

Ons ken die heerlike ruwwigheid van ondekking, maar ook die pyn van groei. Ons het die talent om te blink as ons geslyp te word deur die lewe en die kenmerk om te kan skyn waar ons ook al gaan. Al word jy verskuif en geskok, beteken dit nie dat jy dof bly nie. Dan begin mens eers skyn, want jy het kennis, ervaring, karakter en geskiedenis.

Mens moet nooit dink jy is net ‘n ordinêre klip nie!

My klipgeskiedenis is nog nie klaar nie. Ek word steeds geslyp. Ek kry seer en leer swaar, maar wil net asseblief tog nie vir jare aanmekaar in dieselfde rok rondloop en altyd dieselfde wees, sonder nuwe wysheid en kennis en waarde nie.

Dis my klipgeskiedenis sover.

Wat is jou klipgeskiedenis?

*******

Ek hoop die diamant boer kon darem ‘n redelik prys vir die diamantjie kry wat dit ongesiens uit sy hek gemaak het. Daardie diamant het beslis my lewe kom verreik, maar nie in geldwaarde nie!

Ns: Dankie aan my Pa wat ons as kinders op vele reise geneem het en geleer het van die mooi wat mens uit baie eenvoudige dinge kan neem!

One thought on “‘n Klipgeskiedenis

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s