In ewige transito

‘n Lang lang liefde-haat verhouding…

Somtyds is ek verbaas dat my huis nie oorhel soos die toring van Pizza en hand in die sy moet staan van moedeloosheid nie. Die moontlikheid is groot dat as ons huis stemreg gehad het, hy protesoptogte sou organiseer. Die arme oudjie moet alewig stik in die stof en deur pyn en lyding gaan.

Vir my voel dit of my huis al die afgelope ses jaar meer in transito was en op sy kop gestaan het as wat dit net plein normaal was. Daar was net klein sonstraal brekies van gewone orde. Kort oomblikke omhul in vrede sonder stof, ‘n gekap en geskuur en mense wat tydig en ontydig met stowwerige boots my huis vertrap, vuil trap en omkrap.

Ons het sonder veel bedenking ‘n huis gekoop wat gehuil het vir opknapping. Ons het van die ‘gevoel’ van die huis gehou.

Ek was gereed vir die heerlike uitdaging om die huis op te smuk na ons eie persoonlike smaak. Ek het egter totaal nie geweet wat regtig vir my wag nie of hoe lank dit sou neem en natuurlik die prys daaraan verbonde nie. Dit was grootliks die prys wat die tydperk ernstig beïnvloed het.

Ek wou alles op een slag en onmiddelik reg hê, maar die feit dat ons nie familie is van die Ruperts (of so iemand) nie, het ‘op een slag en onmiddelik’ gou onder die boustof verstik. Ek moes toe maar geduld aan die dag lê. My liefde-haat verhouding met ons huis het begin. ‘n Paar droom idees is versmoor en begrawe as gevolg van totaal buitensprorige onkostes. Geld groei toe regtig nie aan bome nie! Ek het gaan kyk in my tuin.

Alhoewel ons baie opknappingstake self probeer doen het, moes daar deur die jare verskeie ’ekspert’ hande ook werkies kom doen. Ek weet nou nie hoekom nie, maar so bietjie van my man se gereedskap het onverwags nuwe en onbekende eienaars gekry, tesame met ons sleepwa se lisensie en ‘n klein borseltjie van my stofsuier (waarlik, wat wil iemand met so ‘n spesifieke stofsuierborseltje aanvang??). Ek weet nie watter ander persoonlike voorraad dalk ook self hier uitgestap het sonder ons medewete nie!

Transito-huise kan lewensgevaarlik wees!

My oë het al vir weke aanmekaar gestraan van boustof, my voet is gebreek in een van ons verbeteringsprojekte en ons het op ‘n stadium ons sitkamerbank in die middel van die kombuis gehad. Moes so om dit loop om te doen wat mens gewoonlik in kombuise doen.

Kontrakteurs het by meer as een geleentheid gesê hul daag nege uur op en dan kom hul half elf, of glad nie. Ek sit soos akkedis en bak in die son, net meer in my eie woede, as die son. Het die kontrakteurs nie fone nie en dink hul regtig mens sit net die heeltyd vir hul en wag? Ek het ‘n lewe, regtig!

Op die langste ou einde het ons tog daar gekom, kon ons ons planne deurvoer en het ek my huis verbetering op verbetering meer geniet.

Nou, na ses jaar se bloedsweet en uithou staar ons nog ‘n projek in die gesig. My dogter se kamer. Haar kamer is deur die prinses stadium tot Hanna Montanna en kie. Dit het ernstig tyd geword vir nuwe kleure, nuwe temas en nuwe alles, eintlik.

Storage wars!

Die gevolg is dat ons terug is by ‘op die kop staan’-huis. My sitkamer lyk of die tornado van die Wizard of Oz en twee bakleiende katte daar deur is. Klere lê gestrooi op die banke gevolg deur duvets, kussings, nog klere, houers en allerhande goed wat ongelooglik uit net EEN slaapkamer kom.

Die arme gastekamer loop ook deur en staan toegepak onder laaikaste, tafeltjies, handsakke, rugsakke, nog klere, mandjies en goetertjies. Dit lyk soos iets uit Storage Wars! En dis die plek waar my arme dogter sal moet slaap en leef vir die volgende week of twee.

Ek wil regtig nie negatief klink nie, maar ondervinding het my geleer dat so opknappingsproses nooit die beplande tydperk neem nie – altyd ‘n week of drie langer!

Nou wag ek net vir die gekap, geskuur, stof en die reuke van pleister, sement en verf wat opklink, deurstink en deurdring deur die res van die huis.

Ek sien uit na die eindresultaat!

Dalk het ek ‘n siekte…

Ek dink ek het ‘n ongeneeslike siekte. Om altyd aan die opknap te wil wees, moet ‘n siekte wees met ‘n hoë wetenskaplike naam. Ek spoor altyd ‘n nuwe plek op om op te knap.

Miskien sal ek nooit met ‘n klaar-reg huis oor die weg kom nie, al belowe ek myself om nie weer so huis te koop nie. Iets daarvan is tog net lekker.

Dis ons huis hierdie. Beslis nie die mooiste in die straat nie, maar sommer net ons lekker werk-huis.

Miskien is ons maar net ewige ‘TRANSITO-RERS’!

One thought on “In ewige transito

  1. Vriendin .. ek voel jou pyn, ek verstik in dieselfde stofwalms en ek val ook oor dieselfde storage wars se goeters wat oral rondlê .. Maar al wat ek vir jou kan sê is … STERKTE vriendin, ons sal dit oorleef 😑

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s