?!Skoonheidsgeheime!?

“Mmmm, Mevrou was lanklaas hier gewees, né?” Sy kyk vir my deur ‘n vrek groot vergrootglas met haar paar Disney-prinses oë.

‘’Hoe het jy geraai?’’ Vra ek opreg vriendelik. “Noem my gerus op my naam.”

‘’Nee, ek kan sien Mevrou se porieeë is….”

Ek het eerlik gedink sy gaan iets sê soos sy het my lanklaas gesien of dat sy my gemis het of ten minste iets minder persoonlik as die toestand van my porieë.

Net so! Net na ek my lê gekry het vir ontspan-uur. Toegegooi onder ‘n sagte wit handdoek om die nodige bo-langs te bedek en met net my ‘panty’ en jeans aan, lê ek op ‘n smallerige bedjie wat met dieselfde handdoekstof oorgetrek is. My tone koekeloer waaierig onder by die handdoek uit. Kop, nek en skouers ontbloot en reg vir ’n salige gesigbehandeling of soos ons dit almal maar noem, ‘n ‘facial’. In my gedagtes lyk ek soos in daardie prentjies.

Jul ken mos daardie prentjies. ‘n Vrou met ‘n sagte glimlag om haar mond en rustige oë, toe van droomverlorendheid terwyl ‘n wonderwerk behandeling haar wegvoer na drywende wolkies en eksotiese eilande.

Dis egter toe nie ek daardie nie. Dis net die advertensie plakkaat op die ruit van die skoonheidssalon.

Wat veronderstel is om die volmaakte uur van rus en vrede te wees, begin om my ‘n spasma in my nek te gee – eerstens oor ‘Mevrou se porieë’! Sy stop toe ook nie by my porieë nie. Sy gaan voort om my te vra wanneer laas ek my wenkbroue laat vorm het en of ek al ‘n ‘peel’ oorweeg het. My selfbeeld begin stadigaan verwelk soos ‘n geplukte roos in die somer.

Ek IS mos nou hier vir my wenkbroue en ek gaan elke maand (……sover moontlik) vir ‘n vorming! Ek probeer myself lomp verdedig asof ek in ‘n skoolhoof se kantoor sit.

Ja, ‘n ‘peel’ is al gedoen en ek het twee weke later nog gelyk soos ‘n reptiel wat sukkel om klaar te vervel. Nee, sê sy, hierdie is ‘n baie sagte ‘peel’. “Mevrou sal dit nie eens sien nie. Miskien net so droë velletjie hier en daar. Ons nasorg roompies is baie doeltrefend. Mevrou kan dit regtig oorweeg. Dit werk goed teen plooie ook.”

My nek spasma is besig om agterom my kop te kruip en met skerp naels aan my slape te klop.

Onbewus van haar uitwerking op my, reinig Disney-ogies my gesig met strelende hande en die geur van tropiese blommetjies dartel om my neus. ‘n Skropmiddel word aanwend en na dié afgespons is word een of ander vrugtesuur aangewend om die laaste dooie velselletjies los te kry en diep in die dieeeeper lae van my vel in te trek vir voeding.

Wegvoerende fluit musiek speel veraf en dit voel of iemand my ‘n droommiddel ingegee het. Die ligte van die vertrek word verdof tot net ‘n sagte skynsel. Alles in die sfeer waarom pure bederf draai. My slape klop nou minder.

“Mevrou kan nou vir so paar minute net rustig lê.” Die winkelvenster prentjie van absolute saligheid neem oor en ek sweef op die wolkies van die prentjie.

Skrik-skielik en wat voel na sekondes later: “Is Mevrou nog reg? Ek moet net nou die suurtjies afwas. Ons wil mevrou nie brand nie, né?” Mmm, ja seker. My oomblik van saligheid verstreke.

“Mevrou weet van die ‘micro needling’ wat ons doen, né?” Sy bly my professioneel aanspreek as Mevrou.

Ja, ek het al daarvan gehoor.

“Dit werk wondere vir die verouderde vel. Ons smeer ietsie aan die vel vir die pyn en mevrou sal net effens rooierig wees vir so rukkie na die tyd. Mevrou kan dit gerus oorweeg.”

My nek begin weer kramp.

Die verouderde vel, né!? Hoe oud dink die Disney prinses is ek? Ek begin my vererg. Regtig? Sy weet nog nie eens mooi hoe om haar naam te spel nie en dan kom vertel sy my van DIE VEROUDERDE VEL!

Nota aan myself: Onthou om asseblief nooit weer ‘n afspraak by hierdie spokie-sonder-lewenservaring te maak nie. Ek dink amper te hardop.

Geheel onbewus van my omgeskommelde emosies druk sy sagkuns roompies aan my gesig en dit ruik so lekker dat ek amper weer verval in die winkelvenster prentjie.

Ek het klaar ‘n hoofpyn.

“Daarsy!” Sê sy selftevrede. “Mevrou kan maar rustig aantrek. Ek wag vir jou in die ontvangsarea.”

Dis ‘U’ vir jou poplap! Dink ek wrewelrig terwyl ek aantrek en sukkel om die duiseligheid van die lê uit my kop te kry. Maar ek gedra my darem nog. Ek het klaar besluit die plek sien my nie weer nie.

My rekening word betaal met ‘n stywerige ek-wil-so-gou-as-moontlik-hier-uit-kom glimlag. My kop is nou regtig seer!

Net toe ek omdraai en groet, sê poplap met die Disney-prinses oë. “Mevrou het darem ‘n pragtige vel vir mevou se ouderdom.” Sy glimlag breed en ‘n ry spierwit tandjies staar my aan.

Né?!

Is dit hul manier van advertering? Hul laat jou voel soos ‘n ou ongestrykte rok en wanneer jy loop word jy vertel jy is darem nog ‘okay-erig’ al is jy ongestryk, sodat jy sal terug kom vir al die ‘peels’ en ‘needlings’. Slim, baie slim!

Net by die deur uit, val my oog onwillekeurig op die advertensie van die droomverlore vrou op die plakaat.

…..miskien moet ek tog gaan vir daai ‘needling’. Ek het al gehoor dit werk wondere vir bykans alles – net as ‘n voorkomingsmaatreël, jy weet!

En ek is g’n oud nie!!

2 thoughts on “?!Skoonheidsgeheime!?

  1. Bwaaaa !!! Elke keer as ek vir my naels gaan, dan wil hulle weet nou hoekom gebruik ek nie die olietjies (wat hulle verkoop) nie want ai, daai cuticles is darem vrek droog …….. En keer op keer sê ek dit werk nie vir my nie, toe antwoord die een die een dag dat ek dit ten minste 5 keer ‘n dag moet aansit …… wel, I rest my case …..

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s