‘n Monster in jou kas!

Daar bly ‘n monster in my kas. Alhoewel ek al talle kere die oudjie uit die weg wou ruim, laat sy haar nie sommer wegjaag nie. Selfs al trek ek, trek monstertjie saam.

Nee, ek praat nou nie van die spreekwoordelike geraamtes in my kas nie. Ek praat van ‘n rêrige monster.

Sodra die monster uitkom, hol my man sommer weg. En sommer almal in die straat ook, as hul sou geweet het. My monster se naam is PMS. Wel bekend aan talle onder ons.

Wanneer monster uitklim gebeur daar baie dinge. Niks lyk soos dit laasweek gelyk het nie en almal is daarop uit om jou die haarnas in te jaag. Tot die onskuldige winkelassistent en die ou wat jou parkeerplek gesteel het.

Hoe moet jy ‘n wag voor jou mond plaas as die wag glad nie opdaag nie en jou brein in een of ander weghol perd verander?

Asof dit nie genoeg is nie, verval jy in ‘n tydelike mankoliekheid. Jy huil oor die die voël eiertjies wat die vorige nag uit hul nessies gewaai het. Die arme voëltjie mamma en pappa!

Tranerigheid en kwaai monster loop soos ‘n tweespoor pad saam. Sou jou man jou vra wat fout is en dit in opregte besorgdheid, loop hy hom vas in ‘n stortvloed van trane of die skrikwekkende monster wat gister nog sy vrou was. Arme manlief weet glad nie hoe om een van die twee te hanteer nie.

Logiese redenasie vermoë is iets wat wye draaie om jou gooi. Jou brein word beheer deur emosionele wanorde. Waar is die gewoonlik vriendelike, vrolike en liefdevolle self heen? Soos ‘n monster wat jag en iemand soek om aan te val loop jy rond, net om in trane uit te bars as jy jou prooi gevang het.

‘n Vreesloosheid pak jou beet en jy navigeer jouself in situasies in waarin jy nooit sou beland het onder normale omstandighede nie.

Moet liewer nooit ‘n vrou se parkeerplek steel nie! Jy weet nie of sy dalk in PMS modus is nie.

Asof dit nie genoeg is nie trek daar so ‘n monster in jou dogter se kas ook in. Dis natuurlik ‘n pa se nagmerrie! Al wat hy verstaan is dat wanneer die monster uit is, sy vrede tydelik befonkfaai is! Niks wat hy sê of doen is reg nie, niks nie!

Eers weet hy nie hoe sy engeltjie dan nou in so monstertjie kon verander het nie. Sy was dan laasweek nog die dierbaarheid self. Nou sit daar ‘n vreemdelimg in sy huis. Partykeer twee of meer vreemdelinge en nie altyd op dieselfde tyd van die maand nie!

Hoe is die nuutste spreekwoord deesdae? Bly kalm en….

Bly kalm en ry die golf.

Dalk is dit selfs beter om ‘n paar keer diep asem te haal, sodat jy kalm genoeg kan bly om die golf te ry. Dié week is maar net ‘n tydelike oorlog waaroor jy voel jy half beheer verloor het.

Die beste is, praat min en luister baie of probeer doof wees (dis beter om nie altyd als te hoor wat ‘n tiener sê in ‘n oomblik van blinde PMS-frustrasie nie). Oor ‘n paar dae is die waters weer kalm, die oplossings baie en die tiener pragtig!

Ek weet party mense beleef nie juis PMS nie, party mans glo dit bestaan glad nie en party vrouens sal ewe koelkies sê dat hul nooit hul koel komkommerkop verloor nie. Ek is opreg jaloers op hulle.

 ‘n Nuwe monster!?

Die probleem is net, ‘n nuwe monster het haar intrek geneem en haar naam is Menopouse. Omdat sy redelik nuut is en nog moet ontslae raak van PMS, wat steeds in bly, raak die geveg soms bietjie deurmekaar. Miskien moet mens maar net op jou bed gaan lê en wag tot dit oor is.

Alhoewel, dit kan dalk bietjie lank neem. Laat ons dan maar ons vriendinne bel en sê dis tyd vir koek en koffie. Hul verstaan mos baie goed en laat jou sommer gou-gou weer jou ou self voel.

Wel dierbare vriendinne, nooi daai monster saam sodat ons haar kan moeg kuier rondom ‘n lekker koppie koffie en ‘n dik skyf sjokolade koek!

Dan is dit nog net hierdie hitte uitbarstings wat onder beheer moet kom.

Nooit ‘n vevelige oomblik in ons vouens se lewe nie, né?

4 thoughts on “‘n Monster in jou kas!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s