Verskil is die nuwe dieselfde

Ek is skuldig, ek erken! Ek vergaap my graag aan ander. Dis eintlik groot pret, want daar is altyd soveel verskillende idees!

So ruk terug sit ons in ‘n teater by Johannesburg Ballet en wag vir ‘n opvoering om te begin. Soos dit mos nou maar gaan as jy reeds op jou sitplekkie sit, kyk jy, nee bestudeer jy die mense wat nog inkom en hul sitplekke soek. My man sê vir my ons sit gelukkig in die middel van die ry, niemand sal by ons kom verbyskuifel nie.  Sy woorde was skaars koud of hier kom ‘n hele span van ses dames in ons ry skuins-boud afgetrippel, al vol parfuum, verskonend en glimlaggend. Reg by ons verby skuifel hul om alle tone en moontlike liddorings mis te trap, sodat hul aan ons anderkant hul plek kan inneem. Nodeloos om te sê, as hul van die ander kant af ingekom het sou daar geen voorvalle of toontrappery gewees het nie. Kan mense nie hul kaartjies lees om seker te maak by watter ingang hul moet inkom nie?

Na dié onderonsie sit ons maar verder en beloer en vergaap ons aan almal. Ek kan nie help om die vrou skuins voor my te sien nie. So van ‘n stoïsynse persoon het ek lanklaas aanskou. Niks was ontspanne aan haar nie, van haar stywe haredos, tot styfgetrekte mond en haar saamgebolde hande op haar skoot. Niks was uit sy plek nie. Sy sit langs haar man (neem ek aan, want ek ken hul mos nou glad nie) wat dieselfde beeld ewe goed uitdra. Stywe lywe langs mekaar en het nie ‘n woord vir mekaar te sê nie.

Die rede vir hul merkbare ontevredenheid, kon ek nie uitwerk nie. Ek het vir ‘n vlietende oomblik gewonder of hul dalk in aanhouding was soos met tipiese CIA stories, maar die moontlikheid is gou gesmoor. Sulke opwinding gebeur net in televisie reekse en flieks. En wie sal dan nou iemand by ‘n ballet opvoeing wil aanhou? Dus, die rede vir die paar se duidelike ontevredenheid het my maande daarna nog besig gehou. Ek het allerhande cliché’s is in my verbeelding opgeroep, maar die antwoord het bly ontwyk. Dalk hou hul maar net nie van ballet nie of dalk was hul werklike omstandighede baie gryser as waarvoor ek dit tans afmaak. Ek sal seker nooit weet nie.

Maande later met ‘n kuiertjie saam met ons mans op ‘n jagplaas besluit ons vriendinne een laatmiddag om te gaan stap. Sommer so in die sandpad af.  Dik sandpad.  Ons een vriendin gesels sonder asemhaal. Sy stap en ek draf om by te bly! Sy praat en ek blaas! Dit is noodsaaklik om te noem dat sy die sandpad kafdraf met ‘n stel hoëhak stewels aan. Ek was natuurlik totaal verstom-verwoes gewees hier langs haar in my verantwoordelike veld-stap-skoentjies. Hoe doen sy dit?

‘n Dag later sit ons ewe gesellig (vir sover so iets moontlik is!) op ‘n wippende en waggelende vierwiel, ingerig vir jag. Ek klou eers voor aan die reling, dan aan die sitplek, dan die ruglening en hop partykeer sentimeters hoog as voertuigie deur ‘n slaggaatjie spring. My dierbare hoëhak vriendin sit langs my asof sy daar vasgemaak is met ‘n vegvliegtuig gordel. Hop glad nie so baie soos ek rond nie en is al te stylvol! Bygesê sy het AL die dun reling-trappies tot bo-op die voertuig self geklim en dit met haar hoëhak stewels. Volgens my is sy die agtste wonder van die wêreld.

Ek moes so mooi trap met my verantwoordelike veldskoene om bo te kom en sy laatwiel met daai hakke dat ek glo ons het almal van bewondering, soos gapende akkedisse gelyk op ‘n hetige somersdag in die Karoo.

Volgende jaar skryf ek haar beslis in vir die ‘Stiletto Race for Charity’ in Sydney. Sy sal hul wys!

Mense is so verskillend soos my stories hierbo. Smake, kleure, idees en afleidings oor gedrag is elkeen se voorreg en waarheid.

Verskille kan baie problematies raak vir ons. Ons wil net asseblief nie uit voel nie. Nie anders lyk of optree as volgens ons eie of groep se idee van wat aanvaarbaar is nie.

Ons het almal vergeet, ons is nie deur ‘n drukpers gejaag toe ons gemaak is nie. Ons is elkeen anders gemaak en dis wat dit is. Jy kan kies om kaalvoet te loop in die winkels of met hakke in die veld. Of dat jy nie van ballet hou nie, of om van die verkeerde kant af ‘n saal binne te kom.

Ons almal word elke dag gekonfronteer met verskille. Van hoe om kinders groot te maak tot wat dan nou die mooiste is tussen bietjie vetjies, baie vetjies of geen vetjies.

As almal maer moes wees, sou maer seker die enigste manier van ‘lyk’ gewees het. Maar dit is nie, ons verskil almal van mekaar.

Sou ons nie verskil het nie was die kanse daar dat ons almal saamgebondel op een kontinent probeer inpas het. Ondekkingsreise in vorige eeue en vandag sou nie bestaan het nie. Dink net hoe baie sou ons gemis het van ons mooi aarde!

Om te verskil is maar net om jouself te wees, om jou eie identiteit te hê. Dis die nuwe ‘dieselfde’!

Mense is gemaak om uniek te wees. Dis al manier om saam te kan staan om ‘n gemeenskap, ‘n nasie te laat oorleef – deur die bydraes van ons verskillende talente. Ons is so verskillend dat ons eintlik dieselfde is.

Ek verstaan nou baie beter hoekom die Toring van Babel noodsaaklik was!

Om te verskil is die nuwe dieselfde!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s