Tussen X-Men, paaie en trofees

Daar sit ons toe in ‘n rytjie en wag. Elkeen van ons is op ‘n ander manier en op ‘n ander plek met ‘n verbandjie verbind, ‘n pleistertjie geplak, ‘n gipsie, steke en skoene aan wat hul laat lyk soos iemand uit X-Men of Robocop.

Ons almal wag om toegelaat te word tot die Kamer van Beslissing (eintlik net die verband kamer!). Dis stil daar in ons rytjie, baie stil. Dieselfde stil wat jy in ‘n hysbak kry. Ongemak en bietjie nuuskierigheid, bietjie nie omgee wie hier langs jou staan nie, maar meer ‘n gevoel dat die rit net moet einde kry.

Ons wag. Ek sukkel om te lank stil te wees, so ek begin praat. (My dogter sal altyd vir my sê ek moet my mond hou, ek maak alles net meer ‘awkward.’)

“Wat het met jou arm gebeur?” Vra ek aan die vrou langs my. Sy vertel sy het op haar kind se ‘hover board’ geklim en soos sy dit stel: “Grootmense klim nie op kinderspeelgoed nie.” Ligamente en ‘hover boards’ gly toe nie goed saam nie.

Die man langs haar kon seker van al die gewag nie op hom laat wag nie en hy begin ‘n hele lys van sy trofees aframmel, asof dit ‘n kompetisie is van wie die meeste arms en bene al gebreek het. Tot vandag toe weet ek nog nie nie vir watter een van sy trofee-beserings hy nou eintlik daar was nie.

Die ander man daar in ons rytjie is nie van die spraaksame soort nie en het net hier en daar toepaslik gelag of sy kop geskud of net plein stil gebly. Hy het duidelik nie gevoel sy trofee-besering het bespreking nodig nie. Bygesê die vrou langs my het ‘n besigheids-tipe oproep ontvang en sonder om haarself te verskoon het sy net daar voor ons almal haar beste engels gegooi dat die aksent so spat en een of ander kontrak met iemand bespreek. Na sy die persoon aan die ander kant belowe het om ‘n regstelling op die genoemde kontrak te maak het sy nog iemand gebel om tog net haar ‘darling’ te wees en die nodige veranderinge te maak, want sy sit nou by die dokter en wag en tyd is nie ‘n kwessie in ‘n dokter spreekamer nie. Soos ons almal weet.

Nog iemand sluit aan by ons rytjie. Sy is in ‘n rolstoel en ek kan nie juis bepaal waar haar eina sit nie, want daar is nêrens pleisters, verbande, gips of X-Men skoene nie. Sy sit net kop onderstebo en praat niks. Ek moet maar afleidings maak en besluit dat sy of duiselig voel of in baie pyn verkeer.

My beurt breek uiteindelik aan om in die Kamer van Beslissing in te gaan. Dis ‘n hele proses vir my. Opstaan, handsak oor skouer gooi en so dat dit nie weer gaan afgly die oomblik wat die krukke in plek is nie. Al hoppend tot in die kamer. My gips word afgesaag en ek probeer nog uitwerk hoe om nie my beenvelle te verloor in die proses nie, toe sien ek dis nie seer nie. My been en ek sal dit maak. Dokter kyk en daar is ek oppad vir x-straal plate.

Die hele proses van handsak en krukke word herhaal. In my enigheid verstaan ek nie dat die Ortopeed se kamers dan nie nader aan Radiologie kan wees nie. Moes drie keer stop om die ongehoorsame handsak weer oor die skouer te kry en nie my nek dalk te breek op my drie been gehoppery nie.

Wag, wag en nog wag. Toe word die pad weer aangepak terug na die Kamer van Beslissing. My nuutgevonde geselskap is almal reeds weg en daar sit nou ‘n nuwe rytjie geselskap. Maar ek is nie meer lus vir praat nie. Ek is sommer vies en moeg. Al amper drie ure later. Gelukkig is die dierbare dokter my genadig en ek word gou ingeroep.

My voet en been se vryheid word voorwaardelik bevestig.

Dit was hemels! My vingers gly oor my been wat wat skaam voel sonder die gips. Dis asof beentjie die heeltyd wil terug kruip in die veilige arms van die gips. My beenhare staan soos wintergras in die Kalahari. My vel sou ‘n skilpad laat kop intrek het, skurwer as sy nek.

Die pad van loop lê soos ‘n pad met blommetyd in die Kaap voor my. Mooier kan dit nie wees nie!

My voet-pad was vol pyn, ongemak, ‘n skop uit my roetine, afhanklikheid van ander, baie frustrerend en ek het net twee ‘bootleg’ broeke gehad. Ek het geweier om nog te koop. Vandag is ek lus en verbrand daai ellendige wyepyp broeke. Maar hul het saam met my anderkant uitgekom. Ek haat die krukke en die gips, maar hul was nodig om my by gesond uit te kry. Ek het geleer om dankbaar te wees vir voete, vir ‘n wonderlike man en kind en vriende en omgee! En wyepyp broeke en die veiligheid van gips.

Ompad, stofpad, sweetpad, kronkelpad, lang pad, modder pad, cul-de-sac pad en pad-sonder-end. Elke pad het iets wat van jou iemand met oë wat beter verstaan kan maak. Dis lekker, dis sleg, dis frustrerend, mooi, hartseer en onvoorspelbaar. Maar dis altyd daar! Een of ander tipe pad. Elke pad met een of ander trofee van wysheid as belofte.

                                                                    *************

Terloops, ek gesels nog steeds met vreemde mense in hysbakke en op ander ongemaklike plekke. Jammer mense, somtyds kan ek dit net nie keer nie. My dogter rol nog steeds haar oë vir my daaroor, maar dalk net is hul storie vol wonderlike interessanthede!

9 thoughts on “Tussen X-Men, paaie en trofees

  1. Ongelooflik omskrywend en realisties. Ons kort almal oefening in hierdie aangeplakde “awkward” situasies waarin mens jouself daagliks bevind.

    Like

  2. Pajamas, ek hou van jou skryfsels, jou skryfstyl en jou denke. Ek het nou so ‘n bietjie tussen jou blogs rondgereis en gelees. Hoe op aarde het ons nog nie voorheen ontmoet nie? Mense wat so eners dink behoort telepaties ingesteld te wees. Mag ek een van jou blogs (sommer hierdie een) re-blog by my om jou voor te stel aan die ander bloggers waarmee ek gereeld gesels?

    Liked by 1 person

    1. Hallo, dis so lekker om jou te ontmoet, al is dit in die ‘kuberruimte’. Dis lekker om te hoor ander dink dieselfde oor dinge. Miskien moes ons nou eers ontmoet het (mens verstaan nie die dinge nie! 😉). Jy kan gerus van my blogs re-blog. Dankie dat jy wil en dit sal regtig lekker wees om nog bloggers te ontmoet.
      Ek kan nie wag om jou blog te ‘surf’ nie. Mooi dag vir jou!

      Liked by 1 person

    2. Hester, ek vra dieselfde vrae: Hoekom weet ons nie van haar nie?
      In die ou dae het WordPress ‘n Afrikaanse afdeling gehad met nuutste skrywers, beste blogs, beste bloginskrywings. Dáár het ons van nuwe blogs gehoor, maar nou kom ‘n mens toevallig op hulle af. Ek het dit nou by Sonell raakgelees omdat Pajamas daar kommentaar gelewer het. Maar nou weet ons van haar!

      Liked by 2 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s