Die chameleon mannetjie

“Oom, kan jy vir my ‘n chameleon mannetjie soek?” Dis wat my dogter jare gelede vir ‘n gids vra toe ons deur die suide van Namibië getoer het. Ons het gekrul van die lag. Sy het op daardie stadium ‘n verkleurmannetjie ‘n chameleon mannetje genoem. Die beste was dat die gids gesê het hy dink ons kan dalk een raak loop. “Regtig, in die woestyn?”  Moet nou nie my kind verniet hoop gee nie!

Dis die laaste plek waar ek ‘n verkleurmannetjie sou soek, maar nou ja, ek het nie eintlik kennis oor die spesifieke habitat van verkleurmannetjies nie. Die woestyn was net nie ‘n baie logiese plek volgens my gewees nie.

Groot was ons verrassing egter gewees, want soos ‘n regte Ursula Andress (toe sy uit die see geloop gekom het in die 007 fliek, Dr. No), kom chameleon mannetjie oor die sand geloop. Reguit oppad na ons toe asof hy geweet het ons soek na hom. ‘n Beter ‘movie scene’ kan jy jou nie indunk nie. ‘n Wonderwerk oomblik!

‘n Ruk gelede betree ek vir die eerste keer in my lewe ‘n tatoëer kunstenaar se winkel.  My vooroordele vasgesement in my kop oor sulke plekke. Kopbene en onheilighede kwadraad! Op ‘n manier is my vooroordele nie teleurgestel nie. Die winkel-ontvangspersoon lyk presies soos ek my voorgestel het. Baie prente geteken op hom en oral oor hom vir sover vel sigbaar is. Natuurlik ook die bykomstige studs en ringe op allerhande plekke waar ek persoonlik nie geweet het dit moontlik is om gate te maak op jou lyf nie.

Die eienaar/tatoëer kunsenaar en sy vrou daag op. Vriendelik en vrolik! (My vooropgestelde idees kruip uit hul neste uit en kom koggel my met wysvingers!)

Hy roep ons in. Self vol prente geteken begin die man gesels en kuier en my vooroordele verdamp soos stoom. Hy praat van sy kinders, met normale tienergeite, te veel TV en ‘Games’ en kleinboet wat vanoggend bietjie moeilik was. Hy praat van sy vrou wat hy verloor het met die geboorte van hul kind. Hy was verlore gewees! Hy het ‘n rowwe lewe gehad. ‘n Persoon wat al baie meer as ek gewaag het, wat hard geleef het en pyn beleef het. Hy vertel van die vrou wat hom kom red het na sy vrou se afsterwe en ja die Saulus oomblik, ons Lewende God in sy lewe.

Ingesluk! My vooroordele het kliphard en ploffend uitmekaar gespat op die grond. Poefff, weg!

Dis dan tog so! Jesus het by die tollenaar tuisgegaan, sy dissipels was vissermanne. Gewone mense soos ek en jy. Enige tipe mens kan op enige plek God se waarheid uitleef.

Hierdie man lewe vir God. Dis so ongelooflik hoe iets ordinêr ekstraordinêr kan word deur die aanraking en wil van God.

Die chameleon mannetjie het doodluiters oor ‘n ruwe stuk aarde aangeloop gekom. Ek het nie verwag dat hy op daardie plek sou wees nie. Ek sou hom nie daar gesoek het nie en tog was hy daar.

Waar ek en jy tans is kan vir ‘n ander persoon die mees onverwagte plek wees om verras te word met God se waarheid. Al wat ons moet doen is om soos die chameleon mannetjie aangestap te kom oor die sand en mense te verras met die liefde van ons liewe liefdevolle Vader.

Ten Slotte:

Ek hoop julle het ‘n heerlike week verder. ♥♥

Hierdie week behoort aan self-liefde. Partykeer dink ons dis ‘n sonde om vir jouself lief te wees. Regtig? Maar wag tot more, dan kan ons lekker gesels.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s