Te veel vingers, te min groen!

Toe groen vingers uitgedeel is was ek blykbaar nie beskikbaar nie, maar toe liefde vir tuin maak en plante uitgedeel is was ek redelik voor in die ry.

n Liefde vir plante met ‘n tekort aan groen vingers kan ‘n dodelike kombinasie wees. Vra maar my plante!

Ek stap so week gelede verby my pot-kruie en sien die gevreesde – luise! Luise is vir my soos ‘n vloekwoord wat jou ma jou geleer het om nooit te sê nie.

Luise en eetbare plante gaan nie saam nie. Mens kan mos nou nie allerhande luisdoders gaan staan en spuit op iets wat jy later gaan pluk vir kook nie.

Gelukkig het my ou vriend, Google weer tot my redding gekom. Ek spring aan die werk. Een koppie kookolie gemeng met een eetlepel skottelgoed seep. Verdun dan een eetlepel van die mengsel met ‘n liter water, spuit op die aangetaste plant en siedaar, luis vlug vir so olierige seperige mengsel. Kruieplant is gered en reg vir die kos pot. Dis so, dis net, mens moet die hele resep lees en reg uitvoer.

As gevolg van my sterk reaktiewe gedrag (sekerlik te danke aan my skok oor die luise), het ek wel ietsie vergeet.

Ek bespuit my pragtige kruieplantjies dat hul drup van die olie. In totale meevoering voer ek dit verder en vryf die olietjies onder die blare in met my vingers en ek sien sommer hoe hol en vlieg die luise van verstikking in die seperige olie. Baie trots bekyk ek hierdie hande werk van my. Niks is so bevredigend as om van die luise op jou kruie ontslae te raak nie.

Heelwat later die dag toe my sitvlak die diep sagtheid van my rusbank vind, tref die waarheid my. Ek spring op en gaan kyk. My lowergroen en gesonde basiliekruid lyk of dit reeds op ‘n pasta gereg geland het. Verlep, verkrimp en olierig. Dis net takkies met verskrompelde blaartjies waar ek kyk.

Ja, ek het nooit die seperige oliemengsel verdun in water nie. Ek het as te ware die arme moedige plantjies versmoor. Die blare kon mos g’n asem haal nie.

Wel, dis nou seker wat mens sal noem om iets met liefde te versmoor!

‘n Week later toe ek maar noodgewonge die ou dooie takkies af sny, sien ek daar is darem hoop. Basiliekruid begin nuwe klein blaartjies stoot van heel onder af – die takkies het ook toe versmoor. Kruisement lyk nog nie na lewe nie en tiemie baklei hard terug. Min dinge kry mos ‘n tiemie onder en dié een blyk ‘n sterk een te wees. Phew!

So is my arme plante se lot. As ek nie my kruie met liefde versmoor nie, sal ek ‘n baie mooi tuin kan hê. Al wat ek kort is om net die instruksies mooi te lees en dan stiptelik uit te voer!

Plantjies, ek is regtig lief vir julle, wees net sterk!

Heerlike lente!

Dis lente en dit veroorsaak sommer ‘n ton vreugde vir my!

Ek hoop julle het ‘n heerlike lente naweek!

Groete, ons praat volgende week weer!

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s