As ‘n hoender met tande…

Hou vas!

Hoekom is dit so dat sodra jou kop in die wolke sweef en jy droomverlore dink die lewe is net perfek, dat iets of iemand jou ‘n harde pluk aan die hakskeen gee en jy al tuimelend in ‘n warboel-bondel op die aarde land?

‘Level head’! Dis waar ons blykbaar gehou word sodat ons nie te opstêrs raak nie. Hierdie ‘level’ word gehandhaaf deur of ‘n klein taai handjie of ‘n jong hand wat ‘n kop het met oë wat kan rol en woorde sê soos: “Oh my word!”, menend – kan jy regtig so onnosel wees?

Om onnosel te voel is iets waarmee ons ma’s sekerlik bekend is. Van die oomblik dat daar ‘n baie klein mensie in jou arms geplaas word word jy uitgedaag. Eers skrik jy vir elke piepgeluid of afwesigheid daarvan, dan hoop jy vir stilte, dan wonder jy hoekom dit so stil is en so hardloop mens heeldag op en af en wonder. Op die ou einde val jy pop-moeg op jou bed neer, want die gewonder is uitputtend.

Net sodra jy voel jy het een wonder-stadium onder die knie, dan word jy met iets nuuts gekonfronteer. En dan wonder jy van voor af.

Dit gaan oor die tande!

Die grootste wonder oor jou sukses in die grootmaak van kinders lê natuurlik in die hiperaktiewe-sponsballetjie-wat-in-enige-rigting-spring era van tiener wees. Opwindend is nie die regte woord nie, want…

‘n Tiener is ‘n verrassing wat elke dag gebeur. Hulle is kreatief, absoluut eerlik met hul menings, vrek snaaks met hul kwinkslae, avontuurlustig, dom-stom wanneer hul moet praat en regtig bang vir niks.

Tieners hou nie van ‘old school’ nie. Die glans daarvan om dinge op nuwe of ander maniere te doen is net te blink en te mooi om uit te los.

Verder is vrees blykbaar vir hulle ‘n werkwoord wat vierwiel aangedrewe is met ‘n turbo. Hul storm in, blindelings somtyds!

Tieners is hoenders met tande!  Gevolge ontbreek uit hul woordeskat. Dis iets waarmee hul later sal ‘deal’. Dis dié gevolge of die gedagte aan sekere hoendervleis-wekkende gevolge wat ons as ouers laat gryp na anti-grys haarprodukte en baie duur roompies vir die plooie. Dis nie altyd moontlik om hul doen en late te keer of te beheer voor die hoender sy tande verloor nie.

Ek dink ons liewe Vader het mooi gedink toe hy dié fase in ‘n mens se grootword ingebou het. Iewers in die chaos van ‘n tiener se kop (en kamer) en ons as ouers se ‘wysheid’ lê ‘n wonderlike unieke balans. Ons tieners blaas lewe in elke liewe situasie waarin jy jou nooit ingedunk het nie en ons as ouers bied die stabiele voetstuk, die vangnet, die wysheid en die noodsaaklike liefde. Al weet jy nie altyd mooi wat jy doen nie, solank dit net werk.

Dit vat mos ‘n hoender met tande om ‘n hoender met tande groot te maak. As jy dalk gewonder het!

As jy dalk nog steeds wonder: Die genade is dat ons toe nie so onnosel is nie, dis ons liefde vir ons kinders wat ons toe al die tyd deur al die onnosel-voel oomblike dra.

Vrydag!!!

More is Vrydag en hopelik vir julle, soos vir my ‘n heerlike vooruitsig op die naweek. Ek hoop om julle te laat lag met een van my rooi-gesig oomblikke (daar is skrikwekkend baie). Net iets om die naweek ‘n hupstoot te gee! Mooi bly!

One thought on “As ‘n hoender met tande…

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s